LET WEL: Maroela Media het vroeër berig die begrafnis sou Maandag plaasvind, soos die familie aan ons gekommunikeer het. Karin Louw het Donderdagaand egter aan Maroela Media se Phillip Bruwer gesê dat die begrafnis eintlik reeds Vrydag om 11:00 plaasvind. Ons wysig die berig dienooreenkomstig. Ons vra verskoning vir enige misverstand of ongerief wat dit mag veroorsaak.
Lourens de Lange (23), een van die slagoffers wat gesterf het nadat vyf mense Vrydag deur ʼn 19-jarige man lukraak met ʼn tweepondhamer in Secunda in Mpumalanga aangeval is, se begrafnisreëlings is bekend gemaak.
De Lange se verloofde, Karin Louw (23), het aan Maroela Media gesê die begrafnis is Vrydag om 11:00 vanuit die Lede in Christus Kerk se Secunda-gemeente in Wilfres Mallowsstraat.
Maroela Media het vroeër berig Louw en De Lange het Vrydag saam met hul tweejarige dogtertjie, Natilie, na die sakekern gestap toe ʼn man hulle met ʼn hamer aangeval het. Lees meer hier.
Die paartjie is ná die aanval na nabygeleë hospitale geneem. De Lange is Saterdag breindood verklaar en is Maandag om 15:00 dood verklaar. Louw, wat ook ses maande swanger is met hul tweede kind, is intussen ontslaan en sterk tuis aan. Sy het gesê haar ongebore dogtertjie het gelukkig niks oorgekom nie.
Die paartjie was glo die aanvaller se derde en vierde slagoffers. Die eerste twee, ʼn mnr. Potgieter en ene Thabo, is kort tevore daar naby aangeval. Die vyfde man, Themba Shabalala (45), is kort daarna in Roy Campbellstraat kritiek gewond en is later die dag in die hospitaal dood.
Die verdagte, Adam Muller, het Maandag in die Secunda-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en drie van poging tot moord.
Buiten die aanklagte van moord en poging tot moord, word hy ook aangekla van opsetlike saakbeskadiging nadat hy glo ʼn winkel in die sakekern se venster probeer stukkend slaan het.
Die polisie het gesê die rede vir die aanval word nog ondersoek.
Muller moet weer op 28 April in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding tot dan.
Die begrafnis is nie maandag nie. dis vrydag die 24ste op 11 uur
Dagsê Marinda
Dankie vir jou kommentaar. Maroela Media het egter weer vanoggend met Karin bevestig dat die begrafnis wel Maandag plaasvind.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Dagsê Marinda
Karin het vanaand aan die joernalis bevestig dat die begrafnis tog môre om 11:00 plaasvind, soos jy tereg aangedui het.
Ons wysig die berig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media