Sekuriteit met klippe, traangas by Wits bestook

Studente betoog in 2019 by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA

Studente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het Vrydag veiligheidsbeamptes by die kampus in Braamfontein aangeval.

Volgens die universiteit het studente teen omstreeks 13:20, vergesel deur ʼn groep van sowat 150 mense van Braamfontein, deur die Yaleweg en Suidstraat-hekke gebars. Talle het klere met politieke embleme daarop gedra.

“Hulle was gewapen met waterbottels, klippe en traangas. Hulle het dit na die privaat veiligheidsbeamptes geslinger. Drie beamptes is beseer en is na die kampus se welstandsentrum geneem.”

Die onderonsie het sowat 20 minute lank buite die Great Hall plaasgevind voor die skare verdaag het, aldus die bestuur van die universiteit.

Die kampus is Vrydag gesluit toe kampusbeheer gepoog het om alle oortreders van die perseel te verwyder. Personeel en studente is toegelaat om die perseel te verlaat, maar niemand is toegang tot die kampus toegestaan nie.

Die studente betoog onder andere teen agterstallige skuld wat sommige studente verhoed om te registreer en die perk van R45 000 wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) op studenteverblyf geplaas het.

Vrydag was die derde dag van betogings.

Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnesty International, sê dié organisasie versoek selfbeheersing van alle betrokke partye, insluitend privaat sekuriteit, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en studente.

“Sekuriteitspersoneel moet slegs mag gebruik as daar geen ander opsie is nie, en selfs dan moet slegs die minimum gebruik word om beserings of lewensverlies te voorkom. Enige onnodige of uitermatige gebruik van mag oortree plaaslike en internasionale wetgewing.”

Mohamed sê studente wat vreedsaam betoog moet toegelaat word om dit te doen.

“Dit is ook noodsaaklik dat die bestuur van Wits en die departement van hoër onderwys so vinnig as moontlik moet werk om die dispuut op te los, anders sal die betogings vir die afsienbare toekoms voortduur en onderrig ontwrig.”

Die universiteit het intussen gesê daar is verkeerde inligting wat die betogers met studente deel. Die bestuur het in ʼn brief die eise van die betogers aangespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Oplossing is om ALLE Universiteite toe te maak!! Laat ons sien waar gaan die klomp verniet studeer en instussen beskadig hulle dieselfde Universiteite as hulle ongelukkig is. More is daar weer ‘n optog as die plek wat hulle beskadig het, nie reggemaak word nie. Ondankbare spul wat alles op ‘n skinkbord soek

A.S ·

Kry studies en verblyf verniet en dan wil hulle betogings hou!!!! Stop hulle NSFAS sodat hulle kan betaal soos ander mense moet en skop hulle uit die universiteit!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.