Senior speurders verkla oor ‘gesloer’ in perdemishandelingsaak

Argieffoto. (Foto: NDBV)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het twee senior speurders van die polisie in Potchefstroom by die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes verkla weens ’n beweerde gebrek aan vordering met ’n ondersoek na dieremishandeling.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het in Mei 2018 klagtes van dieremishandeling teen die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) se spesiale vaardigheidseenheid vir die infanterie ingedien.

Die betrokke twee senior polisiebeamptes is toe aangestel om toesig te hou oor die saak en die ondersoek af te handel.

Dit blyk egter nou of daar in die afgelope vier jaar hoegenaamd geen vordering in die saak gemaak is nie. Intussen weier die bestuur van die speurtak van die Potchefstroomse polisie na bewering om enige terugvoer oor die saak aan AfriForum of die NDBV te verskaf.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat namens die NDBV in hierdie saak optree, sê die organisasie deel die NDBV se frustrasie met die powere hantering van die ondersoek.

“Dit blyk dat die ondersoekbeamptes om onverklaarbare redes besig is om hulle voete te sleep met hierdie ondersoek. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat die SAPD óf onbekwaam is om die ondersoek af te handel, óf beïnvloed word om die saak te laat vaar. Ons maak die onvermydelike gevolgtrekking dat die spreekwoordelike stert besig is om die hond te swaai en dat die SANW en die verdagtes (in plaas van die SAPD) besig is om die tempo van die ondersoek te bepaal.”

Maroela Media het destyds berig die perde is in April 2018 uitgehonger aangetref terwyl hulle in die sorg van die Suid-Afrikaanse Leër se spesiale infanterie-eenheid (SAASIC) by die Potchefstroom-basis van die weermag was. Die SAASIC-eenheid het versuim om voer aan te skaf om vir die perde te sorg. Hulle is dus gedwing om grond en hul eie mis te eet en hul toestand het verder versleg. Altesaam 25 perde moes van kant gemaak word as gevolg van hul toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JM ·

Hoe lank gaan hierdie patetiese polisiemag nog die land verlam?!

Johan ·

Hoe het ons gedink toe ons hierdie onbevoegde misdadigers terug gelaat het in ons land? Toe ons hierdie bandiete in pakke klere en uniforms toegedraai het, het ons gedink hulle sal ‘n moderne land kan regeer? Dan is daar nog mense wat elke dag pleit vir die doodstraf……..kan julle julself indink wat sal gebeur die dag as ‘n misdadiger oor jou lot sal moet beslis???

Jakes ·

Die SAPD en weermag is goeie voorbeelde van die ANC se onvermoeë van hoe n land regeer en bestuur moet word.

4ntj13 ·

Genadiglik het NDBV die reg om oorblywende diere daar te verwyder. Selfs om ʼn hofbevel te kry teen alle toekomstige aankope. Hulle kan ook private strafregtelike aksie instel met wat hulle teëgekom het. Ek dink gebrek aan geld keer hulle. Hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.