Sibanye Gold het bevestig ses verteenwoordigers van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is by Kroondal-myn naby Rustenburg, Noordwes, geskors hangende ʼn interne dissiplinêre ondersoek.
Die ses Amcu-lede word onder andere van intimidasie beskuldig.
Een van die ses persone is die Amcu-takvoorsitter. Die maatskappy het in ʼn verklaring gesê strafregtelike aanklagte is by die polisie aanhangig gemaak nadat hy glo herhaaldelik ʼn lid van Kroondal-mynbestuur gedreig het.
“Die dreigemente en intimidasie deur Amcu-verteenwoordigers is onaanvaarbaar en sal nie deur Sibanye geduld word nie,” het Jean Nel, uitvoerende hoof, gesê. “Die bestuur by Kroondal onderhandel te goeder trou oor verskeie kwessies met die vakbond. Die onwettige wyse waarop die Amcu-verteenwoordigers opgetree het is ʼn bron van erns, aangesien dit die veiligheid van ons werknemers en lewensvatbaarheid van ons bedrywighede bedreig.”
Nel het gesê kragtens die erkenningsooreenkoms moet Amcu se leierskap aanspreeklikheid aanvaar vir hul verteenwoordigers se optrede.