Ses in hof ná moord op sokkerspeler

Luke Fleurs (Foto: X /Minister of Sport, Arts & Culture)

Ses mans het in die Roodepoort-landdroshof verskyn op aanklag van die moord op die gewilde Kaizer Chiefs-sokkerspeler Luke Fleurs.

Ndumiso Moswane (26), Fernando Sive (25), Nhlakanipho Dlamini (21), Franky Xaba (25), Maredi Mphahlele (36) en Thembinkosi Hlomikhawu (31) is almal op 10 April in Slovoville in hegtenis geneem. Lede van die polisie se provinsiale ondersoekeenheid het inligting opgevolg oor Fleurs se voertuig wat op 3 April 2024 in Honeydew gekaap is, sê Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Maroela Media het vroeër berig die sokkerspeler was met ʼn rooi Volkswagen Golf 8 GTi by ʼn vulstasie naby die hoek van 14de Laan en Hendrik Potgieterweg in Roodepoort toe twee gewapende mans hom oorval het.

Die gewapende mans het met ʼn BMW by die toneel opgedaag.

Fleurs en ʼn persoon saam met hom in die motor is uit hulle voertuig verwyder en die aanvallers het dadelik in die motor geklim. Toe hulle wegry, het Fleurs probeer om die deur se handvatsel te gryp en een van die vermeende kapers het op hom gevuur.

Hy is in die bolyf geskiet. Fleurs is by sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die ses persone staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van vuurwapens en ammunisie en dwarsboming van die gereg.

Die saak is tot 19 April 2024 uitgestel sodat die beskuldigdes aansoek kan doen vir regsverteenwoordiging. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.