Ses sterf in ongeluk in Wes-Kaap

(Foto: Verskaf)

Ses mense, onder wie twee kinders, is dood toe ’n vragmotor en ʼn motor op die R60 tussen Worcester en Robertson in die Wes-Kaap gebots het.

Die ongeluk het Saterdag omstreeks 04:50 by Mouershoogte op die R60 plaasgevind.

Volgens Jandré Bakker, Wes-Kaapse verkeerswoordvoerder, was ’n swaar Volvo-vragmotor en ʼn blou Volkswagen Citi Golf in die ongeluk betrokke.

(Foto: Verskaf)

“Volgens inligting van die toneel het die vragmotor van die rigting van Robertson gery en die motor in dié van Worcester,” sê Bakker.

“Die bestuurder van die vragmotor beweer die motor het reg van voor in hom vasgery.”

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, was die ses oorledenes almal in die motor. Die vragmotorbestuurder is ongedeerd.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag. Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek,” sê Twigg.

“Die oorledenes se identiteit moet nog vasgestel word.”

Enigiemand met meer inligting oor die ongeluk kan die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.