Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, sê die ses oorledenes was plaaswerkers wat agter op ʼn vragmotor vervoer is.
“Volgens ʼn ooggetuie het die vragmotor links van die geel streep gery en ʼn paneelwa het agter die vragmotor gery. Die bestuurder van die paneelwa wou glo die vragmotor probeer verbysteek maar die bestuurder van die vragmotor het intussen besluit om terug in die korrekte baan in te beweeg.”
Volgens Musi het die twee voertuie gebots en omgeslaan. Ses mense is op die toneel dood. “Tien mense is ernstig beseer en is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Een persoon is kritiek beseer en is per helikopter na ʼn hospitaal vervoer.”
Mmusi het gesê die bestuurders van die vragmotor en die paneelwa het slegs ligte beserings opgedoen.