Die Oos-Kaapse polisie het ses mans in hegtenis geneem nadat hulle na bewering by ʼn woning in die spogbuurt Vincent Heights ingebreek het.
Dié ses het die gesin, wat besig was met aandete, glo Vrydagaand omstreeks 19:00 van juweliersware, ʼn vuurwapen en nog waardevolle besittings ten bedrae van ongeveer R500 000 beroof.
Kapt. Mluleki Mbi, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê vier mans het na bewering die woning se voordeur oopgeskop om toegang te verkry en die mense in die huis aangesê om op die vloer te lê. Hulle het hul juweliersware en selfone geroof terwyl hulle wapens op die gesin gerig het.
Twee van die verdagtes is saam met die klaer na die onderste verdieping van die huis en het op die kluis se sleutels aangedring. Hulle het ʼn vuurwapen, juweliersware en ander waardevolle items uit die kluis geneem.
Mbi vertel die ses aanvallers het die gesin in die badkamer op die boonste verdieping toegesluit en met nagenoeg R500 000 se besittings weggekom.
Beamptes van Mdantsane se polisiekantoor het dadelik die voertuig waarmee die ses weggekom het, se registrasienommer gesirkuleer. Nadat hulle wenke opgevolg het, het hulle die mans in ʼn lodge in die voorstad Selborne aangekeer.
Hulle het na bewering ʼn Range Rover gebruik wat in KwaZulu-Natal gekaap is en wat die polisie teruggekry het.
Al ses sal na verwagting Maandag in Oos-Londen se landdroshof verskyn.
Uitstekende werk! Trots op die Polisie.Sterkte vir daardie gesin
Ses maak ‘n volledige span, maak nie saak wat gedoen word hetsy werk of misdaad.
Dankie Maroelamedia vir die berig – Ons moet nou sien of die Dispatch Dagblad hier die berig gaan dra !!