Ses vermoor in ‘dwelmhuis’

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Ses mense is Saterdag vroegoggend vermoor in ’n huis in die New Brighton-nedersetting naby Gqeberha in die Oos-Kaap.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het bure tussen 01:00 en 02:00 geweerskote vanuit hul bure se huis in Rambastraat gehoor.

“Die bure het omstreeks 06:45 gaan ondersoek instel. Met hul aankoms by die huis, het hulle die voordeur oop gekry. Binne die huis het hulle vier liggame, een vrou en drie mans, op die sitkamervloer aangetref,” sê Naidu.

“Daar is ook ’n vrou se liggaam in die kombuis en nog een in die slaapkamer gevind. Daar was ’n driejarige kleuter saam met die vrou in die slaapkamer. Die kind was ongedeerd.”

Volgens Naidu was die oorledenes almal tussen 25 en 35 jaar oud. Hul name word vir eers weerhou totdat al die familielede van hul moord in kennis gestel is.

“Van die slagoffers was geskiet en gesteek, terwyl die ander net geskiet was.”

Daar word beweer dat die huis aan ’n motorwerktuigkundige behoort en dat die huis as ’n dwelmhuis gebruik word.

“Dele van die huis was geplunder, maar dit is nog nie duidelik wat alles gesteel is nie.”

Die motief van die moorde moet ook nog vasgestel word.

“Die polisie in Gqeberha het ses sake van moord aanhangig gemaak.”

Genl.maj. Thandiswa Kupiso, waarnemende polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het ’n 72-uur-aktiveringsplan van stapel gestuur om die verdagtes aan te keer. Sy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie te help om die verdagtes op te spoor.

“Ons vra dat lede van die gemeenskap hande vat met die polisie om hierdie genadelose misdadigers vas te trek. Die aktiveringspan sal onverpoos werk om genoeg inligting en bewyse in te samel om diegene wat vir die moorde verantwoordelik is, aan te keer,” sê Kupiso.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan kol. Willie Mayi by 082 697 5914 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.