‘Seun breek nie eers ʼn rib’ toe motorfiets tref

JG Oelofse voor die rugbywedstryd (Foto: Verskaf)

Anda Oelofse sê dit is ʼn wonderwerk dat haar seun, JG Oelofse (9), slegs geringe beserings opgedoen het nadat hy Saterdag voor die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Wallis in Bloemfontein deur ʼn polisiemotorfiets getref is.

“Ek kan nie glo ons seun lewe en het nie blywende skade nie,” vertel Oelofse.

Volgens Oelofse was die gesin onderweg na die Vrystaat rugbystadion toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ons het ver van die stadion gestop en moes ʼn ent na die stadion loop. Ons was ʼn groot groep toeskouers wat in ʼn bondel saamgeloop het. Eers het daar twee polisiemotorfietse verby ons gery, gevolg deur ʼn bus met rugbyspelers. Ons het gedink dis die bus met die Springbokrugbyspelers, want almal het in opwinding geskree: ‘Bokke’.

“Ek het nog na my niggie, Ilzenel Mouton, wat langs my gestap het, gedraai en gesê ek kan nie glo die polisiemotorfietse jaag so vinnig tussendeur die mense nie. Toe ek omkyk sien ek hoe JG vorentoe in die rigting van die bus hardloop en vir die rugbyspelers waai. Dit is toe dat hy reg voor een van die motorfietse inhardloop en hy die volgende oomblik deur die lug trek.”

Oelofse en haar man, RP, sowel as Mouton – wat ʼn gekwalifiseerde verpleegster is – het na JG gehardloop wat op die grond in die pad gelê het. Die seun het nie reageer nie en volgens Oelofse het daar bloed by sy mond uitgekom.

JG in die intensiewe sorgeenheid in Mediclinic Bloemfontein (Foto: Verskaf)

“Sy kakebene was styf opmekaar en ons het gesukkel om sy mond oop te kry. Ek kan nie presies onthou wat als gebeur het nie, maar ek onthou Ilzenel het ys op sy kop gesit en ons het kunsmatige asemhaling begin toepas. My man het langs JG gekniel en begin bid.

“Ek het in ʼn stadium gedink my kind is dood, maar toe ek weer opkyk en sien hoe my man bid, het ek weer hoop gekry.”

JG het ná ʼn rukkie bygekom en volgens Oelofse geroggel en deur sy neus probeer asemhaal.

“Na die derde keer wat ek mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas het, het hy begin huil en sy kop vasgehou. Dit is toe dat Ilzenel vir my sê dat hy okay gaan wees.”

Paramedici het daarna opgedaag en JG per ambulans na die Mediclinic Bloemfontein geneem. Hy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem, waar dokters hom onder sedasie geplaas het om ʼn CT-skandering te doen. Hy is die volgende oggend weer uit die sedasie gebring.

JG is steeds in die intensiewesorgeenheid, maar kan moontlik Maandagmiddag na ʼn gewone saal oorgeplaas word.

“Hy lyk goed. Hy het effense bloeding en swelling op die brein gehad, maar dié is nou al baie beter. Hy praat al saggies en stadig, maar die dokters glo nie daar is permanente skade aan sy brein nie.”

JG het ook sy linkerlong gekneus en het verder skrape oor sy lyf. Hy het geen beenfrakture opgedoen nie.

“Die feit dat hy nie eers ʼn ribbebeen gebreek het nie, is ʼn wonderwerk.”

Die gesin woon in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap en JG is ʼn leerder aan Futurum Akademie.

Volgens Oelofse is sy nie kwaad vir die polisiebeampte wat JG getref het nie, en voel hy kon dit nie vermy het nie. Die beampte het ná die ongeluk stilgehou en om verskoning gevra.

Die polisie het die afgelope naweek bevestig ʼn saak van roekelose bestuur word ondersoek.

Die rugbystadion het aan Maroela Media bevestig hy is bewus van die voorval, maar kan nie kommentaar lewer nie omdat die voorval buite die stadion gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Toy ·

Ek is so bly hy het nie te ernstig seer gekry nie, sterkte vir julle.

Anton ·

Bly die mannetjie is darem nie te erg beseer nie. Kyk tog hoe volwasse en verantwoordelik is ons mense. Net ‘n ongeluk en niemand is vir niemand kwaad nie. Dink net as dit by ‘n sokkerwedstryd gebeur het, was Ou Malempie en die tuinjong dadelik op TV

Christine ·

Ai, kinders wat hardloop sonder om te kyk. Word gou gesond, Boetman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.