Seun kort voor Kersfees gegroet

Kaydo Venter (Foto: HTS Middelburg/Facebook)

Die 14-jarige Kaydo Venter sal Vrydagoggend ter ruste gelê word nadat hy Maandag noodlottige beserings tydens ’n ongeluk op ’n veldmotorfietsbaan opgedoen het.

“Hy was ’n baie innemende kind met pragtige maniere. Hy het altyd geglimlag en gelag,” vertel Hoppie van Jaarsveldt, skoolhoof van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg in Mpumalanga, kort nadat hy Kaydo se ouers Woensdagoggend besoek het.

Volgens Van Jaarsveldt se wete het Kaydo Maandag saam met ’n maat en dié se ouers na ’n veldmotorfietsbaan gegaan waar die twee tienerseuns ’n draai op veldmotorfietse gery het. Die maat het in ’n stadium koeldrank vir hom en Kaydo gaan haal en toe vir Kaydo gaan soek.

Dit is toe dat hy sy maat op die grond naby sy veldmotorfiets aangetref het.

Dit is nie duidelik wat presies gebeur het nie.

Kaydo is na ’n hospitaal geneem waar hy later dood verklaar is.

Kaydo is die tweede leerder aan HTS Middelburg om vandeesmaand te sterf. Lynn Shanker, ’n matriekleerling, is op 10 Desember dood nadat sy ’n hartoperasie ondergaan het.

“Dit is hartseer. ’n Mens wil nie ’n kind verloor nie,” vertel Van Jaarsveldt.

“Ek troos my daaraan dat ons as Christene glo dat ons só moet lewe dat ons enige tyd gereed is om deur die Hemelse Vader weggeneem te word.”

En dit is presies hoe Kaydo en Lynn geleef het, vertel Van Jaarsveldt. “Hierdie twee kinders was besonders in hul leefwyse en optrede.

“My boodskappe aan jong mense, ag, eintlik aan ons almal, is om voluit elke dag te leef in eer en verheerliking van ons Hemelse Vader.”

Jong Kaydo se begrafnisdiens vind Vrydag omstreeks 10:00 by die Corpus Christi-gemeente in Middelburg plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.