ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur nadat ʼn sewejarige seun Donderdagmiddag tydens swaar reën in die Bloemspruit in Bloemfontein geval het.
ʼn Wolkbreuk het Donderdagmiddag oor die stad uitgesak. Tussen 30 mm en 40 mm reën het in ʼn halfuur geval en kitsvloede tot gevolg gehad.
Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die seun, wat as Karabo bekend staan, het omstreeks 13:00 in die spruit in Bloemside geval en is deur die sterk rivierwater meegesleur. Hy was saam met sy maats, en hulle het die polisie ontbied.
Die polisie, polisieduikers en die brandweer het tot 18:00 die aand gesoek waarna die soektog opgeskort is weens swak sigbaarheid en omdat die rivier te sterk gevloei het.
“Die soektog is Vrydagoggend hervat,” het hy gesê. “Die kind was teen 11:00 nog nie opgespoor nie. Die polisie het die seun se ouers opgespoor en staan hulle by.”
Phemelo Moloabi, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerdiens, het Donderdag aan Maroela Media gesê die stad het matige na swaar reënval ervaar wat die gelokaliseerde vloede veroorsaak het. Die weerdiens het sowat 30 mm reën in 30 minute gemeet. Sommige inwoners het egter aangedui dat hulle tot 50 mm reën gehad het.