Sewe sterf reeds ná uitbreking van diarree

(Argieffoto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Groot kommer heers oor die uitbreking van ʼn diarreale siekte in die Hammanskraal-gebied.

Die LUR vir gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal die Jubilee-hospitaal Sondag besoek nadat verskeie mense sedert Maandag by die hospitaal aangekom het met simptome soos diarree, maagkrampe en braking.

Sewe mense is reeds dood.

“Die provinsiale en distrikuitbreking-reaksiespanne is na die Jubilee-hospitaal en ander geraakte gebiede ontplooi om die oorsprong van die diarreale siekte te ondersoek en bewusmaking daaroor onder inwoners te verskerp,” lui ʼn verklaring van die provinsiale departement van gesondheid.

Stoelgangmonsters is van sommige pasiënte versamel en laboratoriumuitslae sal na verwagting deur die loop van die naweek beskikbaar wees.

Die Tshwane-metro het inwoners van Hammanskraal Sondag gemaan om as voorsorgmaatreël nie kraanwater te drink nie.

“Hoewel die stad se water in Hammanskraal nie drinkbaar is nie, verskaf die stad drie keer per week drinkwater deur 52 watertenkwaens aan informele nedersettings, asook daagliks met 40 watertenkwaens in formele nedersettings in Region 2. Dit word gedoen om te verseker dat gemeenskappe veilige drinkwater het,” sê Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro.

Die stad doen ook gereeld watergehaltetoetse en nog omvattende toetse sal op die ganse waterverspreidingsnetwerk gedoen word na aanleiding van die uitbreking, sê hy.

Watermonsters is reeds in die geraakte gebiede versamel en toetsuitslae behoort teen Woensdag beskikbaar te wees.

“Sommige gevalle wat aangemeld is, is vanuit die Moretele-gebied, aan wie die Tshwane-metro nie water verskaf nie.”

Amptenare van die stad se gesondheidsdepartement sal die gebied ook Sondag besoek om watermonsters in die tenkwaens te versamel.

Die stad het ʼn beroep op inwoners met enige verwante simptome gedoen om hulle so gou moontlik by ʼn hospitaal of kliniek aan te meld.

“Gesondheidsfasiliteite is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag om te verseker dat pasiënte met simptome dringend gehelp word,” sê Bokaba.

Die stad wag intussen op die uitslae van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) wat ʼn aanduiding van die bron van die uitbreking moet gee.

Die stad het inwoners gevra om waterhouers gereeld te was en met bleikmiddel te ontsmet en om water van alternatiewe bronne te kook voordat hulle dit drink. Mense is ook gevra om nie in hierdie stadium geloofseremonies soos doopgeleenthede in riviere of strome te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Hoop dit is raad wat die stad gee en nie inmenging by geloofsgeemnskappe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.