Sewende verdagte vas ná moord op tiener

Jordan Moore (Foto: ANA)

’n Sewende verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Jordan Moore (16).

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die 22-jarige verdagte is Dinsdag vasgetrek en sal eersdaags in die Atlantis-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn.

Twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 24 jaar oud, het reeds verlede week in die hof verskyn op aanklag van moord. Hulle het besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie en sal weer op 22 Januarie in die hof verskyn.

Nóg vier verdagtes, tussen 20 en 36 jaar oud, is Dinsdag vasgetrek in verband met die moord op Moore. Hulle het Dinsdag in die landdroshof verskyn.

“Gemeenskapslede het buite die hof gestaan en eis die vier se koppe. Inwoners, onder wie talle skoolleerders, het plakkate gedra waarop hulle die doodstraf en geen borgtog vir die beskuldigdes eis,” sê Van Wyk.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het vroeër bevestig dat die beskuldigdes om borgtog gaan aansoek doen.

Die vier sal na verwagting weer op 24 November in die hof verskyn wanneer hulle dan formeel om borgtog sal aansoek doen.

Daar word beweer dat Moore voorverlede week in Atlantis ontvoer is. Hy is verskeie kere met ’n mes gesteek en daarna glo deur die mans wat hom ontvoer het se honde verskeur. Sy liggaam is later die aand gevind.

Moore en twee van sy vriende is deur ’n groep mans genader wat hulle glo wou dwing om drank by ’n plaaslike sjebien vir hulle te gaan koop. Twee van die tieners kon daarin slaag om te vlug en hulp te gaan soek, maar Moore kon nie wegkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Coolbanana ·

Ek sien nie die rooi berets buite die hof nie, wonder hoekom?

QueenB ·

Hul wil nie borgtog he nie want hul is te vrot om te werk wil verniet vreet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.