‘Sien jou vanaand,’ sê man voor hy verdwyn

Jauqes Stols by sy seuntjie, Wernich. (Foto: Verskaf)

“Baai liefie, sien jou vanaand.”

Dít was glo die laaste woorde wat Jauqes Stols (42) Maandagoggend aan sy vrou, Laurette (46), gesê het toe hy omstreeks 06:15 by hul huis naby Onderstepoort gery het. Volgens Laurette was Stols op pad na sy werksplek in Waltloo. Hy het dit egter nie tot daar gemaak nie en sy foon is sedertdien afgeskakel.

Laurette is rasend van bekommernis en het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het geen idee waar haar man van die afgelope vyf jaar kan wees nie.

Die egpaar en hul vierjarige seuntjie, Wernich, het aan die begin van Augustus van Tzaneen in Limpopo na Pretoria-Noord verhuis en woon op ʼn plot in dié omgewing.

Jauqes Stols het Maandag met dié motor werk toe gery. (Foto: Verskaf)

Stols het onlangs werk as ʼn sproeiverwer by ʼn paneelklopper gekry. Sy werkgewer het Laurette egter Maandagoggend gebel om te vra waar Stols is.

Volgens Laurette het sy niks buitengewoons in Stols se gedrag opgemerk nie. Sy sê hy was in die week voor sy verdwyning ʼn bietjie moeg, maar steeds “gelukkig”.

Sy sê daar is geen rede waarom haar man hulle sou los nie, veral nie sy seuntjie aan wie hy ontsettend geheg is nie. Sy ma woon ook in Pretoria en het glo ook nog niks van Stols gehoor nie.

Laurette en Stols deel haar voertuig, ʼn wit Toyota Corolla met die registrasienommer BJV 768 L. Laurette het nog nie werk gekry sedert hulle na Pretoria verhuis het nie, en sit nou ook sonder vervoer.

Die Pretoria-Noord-polisie het Laurette by die huis besoek, maar sy het nog nie ʼn saaknommer ontvang nie.

Laurette en Jauqes Stols by hul seuntjie, Wernich. (Foto: Verskaf)

Om dinge te vererger het Laurette die afgelope week glo ʼn paar nare oproepe van vreemdelinge ontvang, wat onder meer beweer dat hulle Stols gesien het, en dat hy nooit weer huis toe gaan kom nie. Sy weet nie wie hierdie oproepe maak nie.

Llewellyn Hemmens, AfriForum se streekshoof vir veiligheid in die Noordstreek, sê die organisasie se buurtwagte het die inligting oor Stols se verdwyning op veiligheidsgroepe versprei.

Volgens inligting wat ontvang is, is Stols glo Dinsdag in die Moot-omgewing opgemerk, maar het toe weer verdwyn.

“Ons buurtwagte kyk nog uit vir die voertuig en persoon, maar sover het ons geen verdere leidrade of inligting nie,” het Hemmens gesê.

Laurette sê haar man is nie die tipe persoon wat sommer net sal verdwyn nie.

“Dis nie wie hy is nie. Ons wil net hê hy moet huis toe kom.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miena ·

Ssjohhh – ja die wereld waarin ons leef. Mens kan vandag nie meer weet wat is waarheid nie – loop mense weg sommer net of word hulle regtig ontvoer? En vir watter rede? Wie baat by so n gedoende?
Ek se weer – die wereld waarin ons leef!!!

honeybee ·

Sterkte Laurette, hoop hy sal spoedig veilig terug by die huis wees.

Elene ·

Sterkte liewe vrou. Dit is die aakligste wag. Wanneer julle hom opspoor, laat kyk asb na sy geestestoestand, by ‘n professionele hospitaal – mediese fondse is verplig om te betaal vir hulp – die staat het ook hulp indien mediese fonds nie beskikbaar is nie. Ons moet mooi kyk na ons vriende en familie. Spanning kan ‘n groot las wees vir iemand wat moedeloos voel. Mens kan die persoon invat na enige hospitaal se nooddiensafdeling. Daar is ‘n psigiater op roep. So-nie kry jy nooit ‘n afspraak nie. Hulle verwys hom/haar dan na die nodige afdeling vir behandeling. Sterkte x

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.