Skade ná vloede in George

(Foto: George-munisipaliteit)

Minstens 35 inwoners van George het Vrydag die plaaslike munisipaliteit gekontak oor skade wat weens die oorstromings aan hul huise aangerig is.

Sakeondernemings en huise is hoofsaaklik in Hope-, Merriman-, Market- en Courtenaystraat asook die kusdorp se nywerheidsgebied deur die oorstromings geraak.

In die groter Knysna-gebied is daar ook skade aan ’n aantal huise in Southside- en Anchoragestraat in Wildernis aangerig. Twee huise in Heroldsbaai se mure het ineengestort en ʼn groot aantal strukture in informele nedersettings is oorstroom.

Reën het sedert Donderdagmiddag in George en die groter Knysna-gebied begin uitsak en water het teen Vrydagoggend diep in die strate gestaan.

Volgens die munisipaliteit is tot 75 mm reën teen Vrydag om 08:00 deur die ou waterwerke-afdeling van die munisipaliteit gemeet. ’n Bykomende 30 mm is deur die res van die dag gemeet.

Teen Vrydagmiddag het die reën begin skietgee.

Volgens die George-munisipaliteit het sy noodspanne Vrydag om 08:30 op talle klagtes gereageer wat met vloedskade verband hou.

“Brandbestryders het gehelp met 27 noodsituasies, waartydens sandsakke aan inwoners verskaf is. Daar is op twee motorongelukke in die Outeniqua-pas gereageer. Noodspanne het ook ’n voetganger gehelp wat deur ’n motor omgery is,” sê die munisipaliteit.

’n Aantal paaie is tydelik gesluit weens die oorstromings, waaronder Southside- en Anchoragestraat in Wildernis en Hope- en Unionstraat asook een baan in Courtenayweg in George.

(Foto: George-munisipaliteit)

Waarskuwings is ook aan motoriste uitgereik om versigtig op sekere paaie te ry wat weens die oorstromings geraak is. Dit sluit Victoria-, Merriman-, CJ Langenhoven-, Mark- en St. Legerstraat in.

Die munisipaliteite waarsku motoriste oor die rehabilitasie van Saagmeulstraat, waar verkeer tot September kan beïnvloed kan word.

Sekere dele van die stad is ook weens die swaar reën en oorstromings deur kragonderbrekings geraak en die munisipaliteit het sowat 212 klagtes tussen Donderdag- en Vrydagaand ontvang wat met elektriese kwessies verband hou. Kragverbinding na meeste van hierdie gebiede is reeds herstel.

Munisipale dienste is oor die algemeen weens die oorstromings belemmer, soos vullisverwydering wat nie Vrydag kon plaasvind nie weens die swaar reën.

Sekere munisipale kantore – waaronder die nuwe behuisingskantore en maatskaplike dienstekantore – moes sluit weens die risiko van elektriese kortsluitings wat as gevolg van die oorstromings veroorsaak is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

ai dis jammer een helfte van die land brand en ander helfte verspoel. Dan sit mens met plekke waar daar glad nie H2O (water) vir geskikte gebruik is nie.

Papsak ·

GOD SLAAP NIE HY SIEN ALLES RAAK HOE ONREGVERDIG DIT MET DIE LAND GEWERK WORD DAAROM BRAND EN VERSPOEL ALLES

Marcello ·

As dit regtig die geval is, dan loop George deurlopend deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.