Skandering dalk antwoord op kleuter se raaiseltoestand

Klein Lukas Etzebeth (Foto: Verskaf)

Die kleuterseuntjie Lukas Etzebeth van Roodepoort in Gauteng sal Woensdag ʼn MRI-skandering onder narkose in ʼn Gautengse hospitaal ondergaan met die hoop om uiteindelik antwoorde oor sy mediese toestand te kry.

Dié blondekop seuntjie is op die ouderdom van drie maande met bloeding en vog op die brein gediagnoseer. Sedertdien is Lukas al verskeie kere in die hospitaal opgeneem en wend sy ouers hulle van die een dokter na die ander, op soek na ’n moontlike verklaring vir hul kind se toestand aangesien hy nie kan loop óf praat nie.

Lukas het in Januarie vanjaar vier jaar oud geword – vier jaar sonder enige diagnose of enige duidelike antwoorde oor sy unieke uitdagings.

Janine Etzebeth, Lukas se ma, het vanoggend aan Maroela Media gesê dat ʼn moontlike gewas in haar kleuter se rug opgemerk is. “Dokters kan nie uitmaak wat dit presies is nie. Miskien is dit net ʼn spier wat vassteek, maar miskien is dit ʼn gewas.”

ʼn MRI-skandering wat vandag van Lukas se brein en rug geneem gaan word, sal hopelik meer duidelikheid oor die massa in sy rug kan gee.

Etzebeth vertel dat dit ʼn groot verligting is om uiteindelik dié skandering te laat doen, aangesien sy in die verlede te bang was om dit te skeduleer omdat dit onder narkose gedoen moet word.

“Ons kan nie meer langer wag nie. Dit is iets waaroor ons bekommerd is en dit moet eenvoudig nou gedoen word.”

Sy verduidelik dat Lukas in elk geval sy roetine botox-inspuitings en nuwe beenspalke moet ontvang. Al drie hierdie prosedures kan dus onder een sessie narkose gedoen word.

Lukas moet elke ses maande botox-inspuitings in sy bene ontvang en is afhanklik van beenspalke aangesien sy bene spasties is en nie kan buig nie.

Hy groei egter binne maande uit ʼn paar beenspalke soos hy ouer raak. Dit is nie lank nie of nóg ʼn paar maak hom seer.

Etzebeth verduidelik dat ʼn goeie paar beenspalke wat deur ʼn spesialis ontwerp is, langer sal hou. Só ʼn paar jaag pasiënte egter R27 000 uit die sak. Daarom maak Lukas gebruik van die goedkoper opsie. Dié opsie moet egter elke jaar vervang word met ʼn nuwe paar wat telkens tussen R2 000 en R4 000 kos.

Lukas besoek ook twee keer ʼn week ʼn fisio- en ʼn spraakterapeut. Sy ouers weet dat Lukas ook in die nabye toekoms ʼn arbeidsterapeut sal moet sien.

“Hy het ongelooflike wilskrag. Albei sy terapeute het al vir my gesê dat my kind eendag sal loop én praat. Ja, dit gaan lank vat, maar met baie geduld gaan hy daar kom,” sê Etzebeth.

Etzebeth raak vir ʼn oomblik emosioneel wanneer sy gevra word oor die uitdagings oor die afgelope vier jaar. “Ons is positief. Daar is baie mense wat dit erger het,” antwoord sy.

Besoek gerus dié Facebook-hulpblad vir inligting oor Lukas se vordering of om ’n finansiële bydrae tot sy mediese onkoste te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KAKtus ·

Ek raak sommer kaktus-agtig as jy maande en jare aan n medies betaal en dan wanneer daar betaal moet word, word die.
… en dat…. nie gedek nie. Gaan probeer bietjie twee fondse met mekaar vergelyk. Dit is onmoontlik. Daar moet wetgewing wees waar fondse eenvormig in vergelyking kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.