Skole op Kaapse Vlakte halfwegstasies vir honger suikerbekkies

Die vestiging van tuine by skole om as “vulstasies” vir die voëltjies te dien, help hulle om hul natuurlike migrasie te voltooi. (Foto: Joel Simons)

Deur Ashraf Hendricks, GroundUp

Nuwe lewe word nou geblaas in ʼn historiese migrasieroete vir suikerbekkies tussen die Tafelberg Nasionale Park en die Bolandse berge. Die Ingcungcu-suikerbekkieherstelprojek word met behulp van fynbostuine by skole op die Kaapse Vlakte aangepak.

Ceinwen Smith, uitvoerende direkteur van die projek, sê die voëls reis tussen die bergreekse van Muizenberg en Stellenbosch, maar die roete is weens stedelike ontwikkeling verbrokkel.

Suikerbekkies kan nie vir verder as 1,5 km vlieg sonder om te stop vir kos nie. Die vestiging van tuine by skole om as “vulstasies” vir die voëltjies te dien, help hulle om hul natuurlike migrasie te voltooi.

Smith sê die ontwrigting van voëlmigrasie en die verwoesting van hul habitat het talle spesies,  endemies aan die Kaapse Vlakte, se voortbestaan in gevaar gestel.

Dit gaan nie egter nie net oor die voëls nie, maar ook om die kinders se welstand te verbeter deur hulle in die natuur te kry. Die Kaapse Vlakte gaan gebuk onder ʼn gebrek aan toeganklike natuurlike ruimtes. Saam met die voëls kom opvoedkundige klasse en die vorming van “eko-klubs”, waar laer- en hoërskoolleerders in die buitelug bedrywig kan wees met alles van teken, tot kartering, spesienavorsing en voëlmonitering.

Ceinwen Smith is die uitvoerende direkteur van die projek. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Hulle onderneem ook minstens twee keer per jaar velduitstappies. Smith sê dat hulle “ʼn gevoel van opwinding oor die natuur” wil inspireer.

“Ja, dit gaan oor die voëls en oor die fynbos, maar jy kan al die tuine aanplant en jy kan al die voëls raaksien. As mense egter nie die ruimte versorg nie, is dit daarmee heen,” sê sy.

Boonop is die voëltjies mooi en voeg hulle groot waarde by die omgewing. “Almal hou van die geluid van voëls eerder as die geluid van verkeer,” sê sy.

Doreen Vizant, ’n onderwyseres by Floreat Primêr in Retreat, bedryf die skool se eko-klub. Sy sê die buitelugklasse help haar om leerders touwys te maak oor onderwerpe soos fotosintese buite in die natuur – eerder as net in hul handboeke. Op hierdie manier kan leerders die onderwerp “sien, voel en selfs proe”.

Vizant sê baie leerders woon in woonstelle sonder erwe. Die tuine by die skool wys hulle hoe om na dinge om te sien en as ʼn span saam te werk.

Joel Simons, skoolprogrambestuurder by Ingcungcu, sê die leerders bou self die tuine om hulle oor die versorging en voogdyskap daarvan te leer. Hulle doen die terreinontleding en kartering, berei die grond voor, plant en versorg die tuine. Hy sê hulle wil nie hê dit moet soos nog ʼn “aanplantingsprojek” voel nie; hulle wil ʼn “langdurige verbintenis met die ruimte vestig”.

Die ontwrigting van voëlmigrasie en die verwoesting van hul habitat het talle spesies, endemies aan die Kaapse Vlakte, se voortbestaan in gevaar gestel. (Foto: Sjirk Geerts)

Die eko-klubs stel die leerders ook bloot aan “ongewone vakke” wat nie by skole aangebied word nie, maar wat tot verskeie beroepsrigtings soos ornitologie en kartering kan lei. En die velduitstappies gee hulle toegang tot dele van die stad wat andersins vir hulle ontoeganklik is.

Simons sê talle van die leerders wat by die eko-klub aansluit, het die een of ander persoonlike stryd.

“Die klub bied ʼn ruimte vir hulle om deel te wees van iets.”

‘n Fynbostuin by ‘n skool in Muizenberg. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

By sommige skole is die eko-klub – benewens sport – die enigste buitemuurse aktiwiteit.

“Kinders vind vertroosting, gemeensaamheid en ʼn gevoel van tuishoort waar dit dalk nie vir hulle beskore is nie … of dit nou by die huis, op straat of in die skool is,” sê hy.

Ashlyn Lawrence is ʼn gr. 6-leerder en lid van die eko-klub. Hy sê dit is heerlik om deur die natuur omring te word. “Ek voel of die plante my koester,” sê hy.

Maar dit was nie net maanskyn rose tot hier nie. Smith sê hul betrokkenheid in Lavender Hill moes in ʼn stadium weens bendegeweld opgeskort word. Die hulpbronne by sommige skole is beperk en ander loop weer deur onder diefstal en vandalisme. Plante is al uitgepluk en heinings weggedra. “As die skool nie ʼn veilige grensheining het nie, kan dit regtig uitdagend wees”, sê sy.

Leerders van Floreat Primêre Skool op ‘n uitstappie by Bokbaai. (Foto: Ingcungcu-suikerbekkieherstelprojek)

’n Proefskrif deur Bongani Mnisi, verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie, het in 2013 die grondslag vir die projek gelê. Sedertdien het nege skole al tuine gevestig en ses neem aan die eko-klub-program deel.

In 2021 is ʼn verslag oor die verband wat nektartuine op skoolterreine tussen plante, voëls en mense skep, bekend gestel. Dit het gewys op ʼn langsame en aansienlike toename in voëlgetalle. Die verslag het ook gedui op ʼn 35%-toename in die bevolkingsgetalle van suikerbekkies oor ʼn vyf jaar tydperk.

Die Ingcungcu-suikerbekkieherstelprojek word uit verskeie oorde gefinansier; dit sluit in van natuurleweorganisasies, ʼn voëlkykklub en ʼn botaniese vereniging. Onlangs het dit skarefinansiering deur BackaBuddy ontvang. Daar is ook geldinsamelingsgeleenthede aangebied.

Die projek is ook deel van ʼn fynboskorridor-samewerkingsooreenkoms tussen Greenpop en Communitree.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.