‘Skollie’ sterf

George Ballot in 2020 met sy hond op Riebeek-Kasteel. (Foto: Johan Viljoen)

Geskryf deur Johan Viljoen

Die bekende akteur George Ballot is in die ouderdom van 77 op Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap oorlede.

Hy het die afgelope meer as twee dekades hier gewoon.

Baie sal hom steeds onthou vir sy rol as Skollie in die gewilde Vyfster-TV-reeks wat in die 80’s op die kassie te sien was.

Die kunstenaar Louisa Gerryts, ʼn jarelange vriendin en buurvrou, sê toe Ballot nie Maandag op haar boodskappe reageer nie, het sy onraad vermoed en toe die polisie gevra om ondersoek in te stel by sy huis.

Daar het hulle hom in sy bed aangetref.

Gerryts vertel hy het die laaste jare gesukkel met swak bloedsomloop. Al is die oorsaak van sy dood nog onbekend, vermoed sy dit was ʼn hartaanval of aneurisme. Hy is vermoedelik Saterdag al oorlede.

Gerryts sê Ballot het in 2000 op Riebeek-Kasteel verlief geraak toe hulle aan ʼn bankadvertensie gewerk het wat in Royalstraat geskiet is. Hy het toe eiendom gekoop en hulle is die afgelope 22 jaar al bure. Ten spyte van hul goeie verhouding, was sy nog nooit in sy huis gewees nie.

“Hy het vroeër altyd by die laerskool gaan help met drama as hulle opvoerings gedoen het.

“George was mos maar ʼn bietjie hardkoppig. Maar ons het mekaar verstaan. Ek dink hy was ook maar ʼn opgaarder.
Sy sê Ballot het vroeër vanjaar ʼn gedeelte van sy erf verkoop en gesê hy wil net die oorblywende gedeelte mooi maak, ook verkoop en dan na Malmesbury verhuis.

George Ballot as “Skollie”. (Foto: Verskaf)

Ballot het vroeër verskeie rolle vertolk nadat hy aan die Universiteit van Pretoria studeer en in 1968 by die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste aangesluit het.

Naas sy rol as die misdadiger Skollie in Vyfster (twee reekse), asook die films Skollie en Vyfster: Die slot, was hy aanvanklik in heelparty teaterstukke en later flieks te sien.

Onder sy verhoogoptredes tel Siener in die Suburbs, Die Seemeeu, Mattewis en Meraai, Die Rebellie van Lafras Verwey, Toiings, ‘n Seder val in Waterkloof, en En Dit Was Môre (1985).

Hy het ook in TV-reekse soos TJ7, Arsenaal en Skoppensboer gespeel asook verskeie flieks. Dit sluit Blink Stefaans, Vergeet my Nie, Tant Ralie se Losieshuis, Styx en Orkney Snork Nie! 2 in.

Ballot het hom vroeg in die 2000’s in die Riebeekvallei gevestig, nadat hy ʼn kunsgalery in Kaapstad bedryf het.

Hy het sedertdien grootliks uit die openbare oog verdwyn en ʼn private, stil bestaan gevoer. Hy is meesal gesien as hy op Malmesbury gaan inkopies doen het of met sy fiets en sy hond aan ʼn leiband by die plaaslike winkel ʼn paar honderd meter van sy huis.

Ballot was voorheen getroud met Nerine, wat nou in Kaapstad woon

Sy broer, dr. Muller Ballot (85), is emeritus professor in kunsgeskiedenis en afgetrede direkteur van die universiteitsmuseum by die Universiteit Stellenbosch. Hy vertel Ballot was die jongste van drie kinders en het matriek aan die Hoër Volkskool Heidelberg (Gauteng) voltooi. Hy word ook oorleef deur sy suster, Petro Pelser (89) wat in Middelburg, Mpumalanga woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gaitsigubib ·

Ek het 5ster nooit gemis nie. Die rol van die tronkvoel Skollie “vir wie niemand omgee nie” kon hy eenvoudig nie beter speel nie.

Judy ·

Baie hartseer. Sal hom altyd onthou van toe hy nog in Westdene Johannesburg gewoon het.

JohanR ·

Dit was die dae toe daar nog iets was op tv om te kyk. Net soos met Dallas, het ek nooit Vyfster gemis. Dink baie het gekyk net om te sien wat Skollie vanaand gaan aanvang. RIV.

Wit Leeu ·

Rus in vrede Skollie ! Jy sal altyd onthou word. Alle sterkte aan die familie en naasbestaandes.

sonneblommekie ·

Ai, watse slegte nuus net nie !!
Die tronkstories het my persoonlik baie na aan die hart gelê.
Seker geen episode gemis nie.

Wat ‘n briljante akteur.
RIV ou Skollie
xxx

Chris ·

Ai George was ñ ikoon.As ons aan Vyfster dink sal ons altyd di naam Skollie vereenselwig met diè reeks RIV

Realis Thailand ·

My simpatie aan die familie en onthou net julle broer was n mens wie vir baie mense groot plesier verskaf het met sy optredes
Mag hy in vrede rus

OU SAAR ·

Ń legende, volksbesit…
Ris in vrede oom George.
Jy sal altyd in ons harte voortleef.
Sterkte aan sy naasbestaandes.

Karina ·

RIV Skollie – jy het vir groot vermaak gesort in Vyfster. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.