Skorsing van toerisme-hoë laat nóg vrae ontstaan

Daar is nog vele onbeantwoorde vrae oor die beoogde transaksie met Tottenham Hotspur. (Foto: SAT)

Johan van der Walt, waarnemende finansiële hoof van Suid-Afrikaanse Toerisme (SAT), het ʼn brief ontvang waarin hy ingelig word van SAT se voorneme om hom te skors – ʼn stap wat volgens die DA ʼn aanduiding is dat daar nog vele onbeantwoorde vrae oor die omstrede ooreenkoms is.

Van der Walt het bande met ʼn agentskap wat kan baat by die transaksie wat SAT met die Britse sokkerklub Tottenham Hotspur wil aangaan. ʼn Herrie het sowat twee weke gelede losgebars ná besonderhede daaroor aan die lig gekom het.

Ingevolge die voorgestelde ooreenkoms sal SAT ʼn drie jaar lange ooreenkoms ten bedrae van £42,5 miljoen (sowat R900 miljoen) met Tottenham aangaan. Dit sal behels dat SAT onder meer sy handelsmerk op spelers se toerusting kan aanbring, gratis toegang tot kaartjies en die stadion kry en oefenkampe in Suid-Afrika aangebied word.

Themba Khumalo, waarnemende uitvoerende hoof van SAT, het by ʼn mediakonferensie voet by stuk gehou dat geen middelman of agentskap by die ooreenkoms betrokke is nie. Dit het later egter geblyk dat ʼn maatskappy, WWP Group, sowat R31,3 miljoen uit hul betrokkenheid by die ooreenkoms kan verdien.

Die nuuswebwerf Daily Maverick het aanvanklik berig Van der Walt het bande met verskeie maatskappye wat met WWP Group verbind word en dat hy in die verlede regstreeks vir die groep werk gedoen het.

Thozamile Botha, voorsitter van die SAT-raad, sê nou Van der Walt het nie die botsende belange verklaar nie. Luidens berigte het hy ʼn brief ontvang oor die voorneme om hom te skors, maar dat hy nie daarop gereageer het nie.

Botha sê ook Van der Walt het hom ook nie onttrek aan vergaderings waar die ooreenkoms bespreek is nie.

Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, sê die skorsingskennisgewing moet verwelkom word, maar is ook ʼn aanduiding dat Van der Walt bande het met die groep. Mediaberigte dui boonop aan dat hy dit reeds erken het.

De Freitas sê die jongste verwikkelinge bevestig net die dringende behoefte aan ʼn parlementêre ondersoek na die kwessie.

“Ek gaan by die volgende portefeuljevergadering oor toerisme vra vir ʼn ondersoek om dringend van stapel gestuur te word omdat dit lyk of daar heelwat versteekte inligting is wat nog blootgelê moet word.”

Intussen het SAT ʼn forensiese ondersoek gelas na wie ook al die besonderhede oor die peperduur transaksie aan die media uitgelek het. Die soektog na die fluitjieblaser wat die voorstel onder gewone Suid-Afrikaners se aandag gebring het, is uit verskeie oorde veroordeel.

Die DA het vroeër al gesê dit is absurd, terwyl die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) sê die soektog na die fluitjieblaser – na wie Khumalo as “on-Suid-Afrikaans” verwys het – dra net by tot die sinloosheid van die hele ooreenkoms.

“Die SA Toerismeraad se houding laat veel te wense oor. Dit lyk of hy dink dat hy nie aan die land aanspreeklik is nie en eerder fluitjieblasers wil uitsnuffel,” sê Reuben Maleka, woordvoerder van die VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agge nee ·

Skelm, skelmer, skelmste! Gaan daar nooit ‘n einde aan korrupsie kom nie?

Danie ·

En die spul wou die sogenaamde belegging of noem dit wat jy wil versteek het.Eers ontken en skuld vir ander gee nou oop en bloot gese hulle gaan voort asof niemand hulle kan keer nie.Lyk na n kuba geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.