Skrywer se nalatenskap leef voort in boeke

Derick van der Walt (Foto: NB Uitgewers, Facebook)

“My pa was ’n legende. Sy nalatenskap vir ons en sy kleinkinders sal voortleef in sy skryfwerk.”

Die bekende skrywer Derick van der Walt (63) se gesin sal hom onthou as ’n besonderse skrywer wat ’n groot leemte in die Afrikaanse skryfwêreld gaan laat.

Van der Walt is Donderdag omstreeks 02:40 in ’n hospitaal in Pretoria oorlede. Volgens sy oudste seun, Tjaart (38), het sy pa meer as twee weke gelede geval en ernstige kopbeserings opgedoen. Hy is sedertdien in die hospitaal.

“Ek kan nie glo hy is weg nie, dit was té gou,” vertel Tjaart.

Maroela Media het vroeër berig Van der Walt is die skrywer van verskeie bekroonde jeugverhale en romans en was veral bekend vir sy jeugboek Lien se lankstaanskoene, wat in 2012 verfilm is. Hy het met hierdie boek die Sanlam- en MER-prys verower. Hy is ook met eervolle vermelding op die Ibby-ererol geplaas.

Volgens Tjaart het sy pa van kindsbeen af ’n groot liefde vir lees en boeke gehad. “Hy het nie sport beoefen nie en was meer akademies aangelê.”

Lien se lankstaanskoene was Van der Walt se debuutroman wat in 2008 deur Tafelberg-Uitgewers uitgegee is. Van der Walt was toe 50 jaar oud.

“Sy passie vir lees het later in sy lewe eers in die vorm van skryf uitgekom. Hy het een oggend wakker geword met ’n storie in sy kop en begin skryf. ’n Ruk later is Lien se lankstaanskoene gebore.

“Die skryfwerk het organies gekom. Hy het ’n kans gewaag en mense het van sy skryfwerk gehou. Hy het toe ’n massiewe sukses van sy stokperdjie gemaak.”

Van der Walt was ook die eienaar van Green Pepper Communication Cc. in Pretoria – ’n maatskappy wat in korporatiewe kommunikasie spesialiseer. Van der Walt was ’n kommunikasiekonsultant.

Van der Walt word oorleef deur sy vrou, Lenie, en hul drie seuns, Tjaart, Werner (34) en André (33).

Tjaart beskryf sy pa as ’n “ysterpa” wat alles vir sy gesin gedoen het. “Hy het hard gewerk om vir ons drie seuns te sorg. Hy het sy lewe aan sy gesin gewy.”

Tjaart sal ook sy pa se skerpsinnigheid altyd onthou.

“Hoewel ons nie in ons pa se skryfvoetspore volg nie, het ons elkeen ’n liefde met ons pa gedeel. Ek en my pa was albei lief vir rugby, saam met Werner het my pa die liefde vir kosmaak gedeel en André was meer akademies soos my pa.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.