Skukuza-stroper kry 15 jaar tronkstraf

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die streekshof op Skukuza in Mpumalanga het ʼn 24 jarige man tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir aktiwiteite wat met renosterstropery verband hou.

Een Sihlangu is vroeër op twee aanklagte van betreding in die Nasionale Krugerwildtuin skuldig bevind toe hy glo gepoog het om renosters te stroop, asook twee aanklagte vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen, ammunisie en die besit van ander gevaarlike wapens.

Wildbewaarders het hom by albei geleenthede betyds aangekeer voordat hy ʼn renoster kon doodmaak.

Hy is saam met sy medebeskuldigde, Forster Lubisi, aangekla. Lubisi het skuldig gepleit en is tot 32 jaar direkte tronkstraf deur dieselfde hof gevonnis.

Die twee se verhore het afsonderlik plaasgevind.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is Sihlangu in 2018 vir die eerste voorval in hegtenis geneem toe hy die wildtuin saam met Lubisi betree het. Die twee het onder meer vuurwapens en ammunisie, ʼn byl en ʼn mes by hulle gehad met die doel om renosters dood te maak.

“Hy [Sihlangu] is in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Hy het egter sy renosterstropery in April 2021 voortgesit (ook saam met Lubisi) en die Krugerwildtuin by die Stolzneck-gebied van die park betree.”

Sihlangu het aanvanklik onskuldig gepleit, maar dit later na skuldig verander.

Die staat het aangevoer dat Sihlangu boonop geen berou vir sy dade toon nie en bloot met onwettige renosterstropery voortgegaan het nadat hy reeds daarvoor in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Voer hom vir die leeus,dis ‘n permanente oplossing vir sy kriminele gedrag.

Prikkie ·

Maar sluit hom toe vir ‘n baie lang tyd TOTDAT hy berou het.

Sarel ·

15jr…met die jare lange stryd teen Stropers is 15jr genoeg?
Ek glo nie want dit skrik beslis nie Stropers af nie

Di ·

DIT is presies wat gebeur met al die kriminele wat hulle BORGTOG gee!! Die land se wette is een groot GRAP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.