Slegs opgeskorte vonnis ná moord op verpleegster

(Foto: Facebook/Tembisa Hospital – TPTH)

Lucky Mudau, ʼn voormalige polisiebeampte, wat ʼn verpleegster op 9 Februarie 2022 by die Tembisa-hospitaal in Johannesburg doodgeskiet het, is 25 jaar tronkstraf opgelê.

Dié vonnis is in sy geheel vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie gedurende hierdie tydperk aan ʼn soortgelyke oortreding skuldig bevind word in die Johannesburgse hooggeregshof nie.

Mudau het skuld beken dat hy die moord op Lebogang Vinolia Monene beplan het en hy is sodanig skuldig bevind.

Maroela Media het vroeër berig hy het direk ná die voorval by die hospitaal probeer om sy eie lewe te neem. Die besering wat Mudau opgedoen het toe hy homself geskiet het, het hom kwadruplegies gelaat.

“Die hof het sy uitspraak gemaak gebaseer op getuienis van dr. Raymond Mathebula, van die Tshwane-rehabilitasiesentrum, wat die diagnose van Mudau se kwadruplegiese mediese toestand uiteengesit het, en die getuienis van gesondheidsorgwerkers van die departement van korrektiewe dienste dat hulle slegs primêre gesondheidsdienste aanbied en daar is dus nie ʼn gevangenis wat Mudau sal kan akkommodeer nie,” het die Nasionale Vervolgingsgesag in ʼn verklaring gesê.

Mirriam Mabe, hoof van gesondheidsdienste, het in besonderhede getuig dat hulle primêre gesondheidsdienste op ʼn buitepasiëntbasis verskaf en slegs pasiënte kan hanteer wat vir ʼn kort periode monitering en waarneming benodig. Indien die gevangene se toestand sou vererger of indien die persoon nie op die medikasie reageer nie, verkies hulle dat die betrokke gevangene na ʼn staatshospitaal oorgeplaas word en, in ernstige gevalle, op mediese parool vrygelaat word sodat die familie self na die persoon kan omsien.

“Die hof het hierdie getuies geroep aangesien hy deur die dilemma in die gesig gestaar is om ʼn behoorlike vonnis op te lê wat ʼn balans bied tussen die omstandighede van die beskuldigde, die belang van die betrokke familie en die belang van geregtigheid.”

Mudau is gediagnoseer as ʼn C5-kwadrupleeg. Dit beteken hy kan nie enigiets vir homself doen nie, onder andere om in die bed te klim, te bad, te eet of ʼn badkamer te gebruik.

“Senior staatsadvokaat Vincent Maphiri het aangevoer dat alhoewel die beskuldigde skuldig bevind is aan moord, wat ook geslagsgebaseerde geweld insluit en waarvoor die gemeenskap rekenskap vereis, moet die hof ook die persoonlike omstandighede van die beskuldigde in ag neem, en dit kom neer op “wesenlike en dwingende omstandighede”.

Die NVG sê Mudau is skuldig bevind dat hy die lewe van Monene op ʼn gewelddadige wyse geneem het, en geen vonnis wat deur die hof opgelê kan word, kan voldoen aan die verlies van lewe en die pyn en lyding wat haar familie steeds beleef nie. “Die wet maak dit vir die hof moontlik om van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk indien daar dwingende en wesenlike omstandighede bestaan wat só afwyking regverdig. Dit is teen hierdie agtergrond en spesifieke omstandighede waarin die hof homself bevind het. Ons aanvaar die vonnis as geregverdig.”

Die Tembisa-hospitaal is die oggend tydelik gesluit nadat Mudau sy vriendin in die hospitaal se parkeerterrein doodgeskiet het. Hy was aan diens ten tyde van die voorval.

Die Gautengse departement van gesondheid het in daardie stadium gesê Mudau het om 08:00 by die hospitaal ingery met ʼn polisievoertuig waarvan die blou ligte geflits het. Hy het by die ongevalle-afdeling se parkeerterrein stilgehou en Monene gebel om hom daar te ontmoet.

Toe sy na die parkeerterrein aangestap kom, het hy op haar losgebrand en daarna die vuurwapen op homself gerig. Monene is op die toneel dood verklaar en Mudau is in ʼn kritieke toestand na ʼn ander hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Nou wonder ek of Polmed vir sy sorg moet betaal? Dan beteken dit dat dit ons mediesefonds is, waarop hy nie meer geregtig is nie. Net soos sy pensioen. Pleks het hy maar die aarde verlaat, want nou is hy heeltemal ‘n las vir die samelewing en die ongelukkige mense wat hom “moet” versorg. Hy het die lewe geneem van iemand wat na ander moes omsien en nou? Wat van haar familie en geliefdes? Ons mag nie oordeel nie, maar ek dink hy verdien wat hom toekom. Hopelik kry niemand hom jammer nie en gee vir hom net die nodigste, maar nou ja, môre, oormôre dan kla die een wat hom versorg en sê hy kry so swaar, die stoel moet vervang word, die huis is nie reg nie, en dan word hy weer soos ‘n koning behandel. Asseblief nie!!!

Burt ·

NA ‘n skuldkerkenning? pateties. Sy vuurwapenlisensie gaan teruggetrek word. As kwadrupleet, wat is die moontlikheid dat hy “nie gedurende hierdie tydperk aan ʼn soortgelyke oortreding skuldig bevind word in die Johannesburgse hooggeregshof nie…” Regtig? Daar is nie in ons regstelsel iets soos selfbesering / selfdood ter versagtende omstandighede nie. Ergste voorval nog van ons swak regstelsel.

Nico ·

Hoe kan hierdie man as ‘n C5 kwadrupleeg geidentifiseer word as hy met ‘n doelbewustheid na die hospitaal in ‘n polisie voertuig met blouligte gegaan het om die vrou koelbloedig dood te skiet. ‘n Opgeskorte vonnis is vir hom op gelê, terwyl die familie met die trauma moet sit, sy het dalk nog kinders gehad.

christo ·

Korrektiewe Dienste moet maar net dan sulke geriewe skep en voorsien. Hy is steeds vry genoeg om deur vriende en familie besoek te word, iets wat die oorledene se familie nie het nie.
Ek hoop die staat teken appél teen die vonnis aan.
Hierdie straf is nie ‘n afskrikmiddel vir ander polisielede wat ook maar gereeld in die nuus wat hulle vrouens en vriendinne DOODSKIET nie. Amptenare wat vertrou word met dodelike wapens, verondestel om die publiek te beskerm nie.
Hospitale en skole is veronderstel om veilige plekke te wees vir gesondheidswerkers en onderwysers. As dit nie bendegeweld is dit mense wat persoonlike griewe het, wat inkom om ander dood te maak en dan beland onskuldiges in die spêrvuur.

Veronika ·

Opgeskorte vonnis sê jy vir my!! Hy is vir sy eie toestand verantwoordelik!! Nie nodig gehad om te doen wat hy het deur haar dood te skiet omdat hy nie sy sin kon kry nie. Daar is n rede hoekom n vrou n abusive man los, maar in haar geval was dit nou elk in vain.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.