Sneeu, ysige weerstoestande voorspel

Argieffoto (Foto: iStock)

Die koue, nat en winderige weer sedert Vrydagmiddag in die Wes-Kaap sal na verwagting ooswaarts oor Suid-Afrika versprei oor die volgende paar dae.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê ysige temperatuur word oor die volgende paar dae in die meeste dele van die land verwag met sneeu op die hoogliggende dele.

Die verwagte kouefront het oor die westelike dele van Suid-Afrika aangekom met ʼn beduidende daling in dagtemperature met gepaardgaande reën.

Die maksimum temperatuur sal na verwagting Sondag en Maandag oor die sentrale en oostelike dele laer as 10°C bly (figuur 1).

Figuur 1: Data uit die numeriese weervoorspellingsmodel dui maksimum temperature aan vir a) Saterdag 8 Julie, b) Sondag 9 Julie en c) Maandag 10 Julie 2023

Sneeu het vanoggend oor die hoogliggende dele van die Wes- en Noord-Kaap geval en sal na verwagting later vandag na die hoogliggende dele van die Oos-Kaap versprei waar dit ontwrigtend kan raak in sommige plekke (sien figuur 2). Sneeu sal Sondag na die suidelike Drakensberge versprei, met ligte sneeu moontlik aan die oostelike hoëveld en platorand van Mpumalanga Maandag. Die kombinasie van koue temperature met moontlike sneeu hou ʼn gevaar in vir kleinveeboere en buitemuurse aktiwiteit.

Figuur 2: Data uit die numeriese weervoorspellingsmodel dui voorspelde sneeuval (in cm) aan vir a) Saterdag 8 Julie, b) Sondag 9 Julie en c) Maandag 10 Julie 2023

Sterk wind word oor die westelike en sentrale binneland verwag met groot golwe aan die wes, suid en suidooskus. Winderige toestande word Sondag en Maandag ook oor die oostelike binneland verwag.

Baie koue toestande word ook verwag oor dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo (hoofsaaklik Maandag, maar reeds oor suidelike Gauteng en die suidelike hoëveld van Mpumalanga Sondag). Ligte sneeu is Maandag moontlik oor die verre oostelike hoëveldstreke en platorand van Mpumalanga. Die maksimum temperatuur sal onder 7°C bly.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens monitor die weerstelsel en sal die publiek op hoogte hou waar nodig. Die publiek word aangemoedig om gereeld die weervoorspellings dop te hou op die radio, televisie en sosiale media. Die jongste inligting is beskikbaar by weathersa.co.za en die weerdiens se Twitter-profiel by @SAWeatherServic

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.