Só lyk weervooruitsigte vir Paasnaweek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die oorwegend warm toestande wat tans oor die land heers, gaan drasties verander in die komende dae met ’n koue front wat oor die Wes-Kaap gaan inbeweeg en koue, winderige en reënerige toestande gaan bring.

Kevin Rae, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê koeler toestande met enkele buie of donderbuie sal uiteindelik teen die einde van die naweek oor KwaZulu-Natal en Gauteng intree. “Daarenteen sal dit na verwagting die hele naweek warm tot baie warm bly in Limpopo.”

Warm tot baie warm toestande heers tans oor dele van die Noord-Kaap, Limpopo sowel as oor naburige Botswana. “Hierdie toestande sal tydens die eerste helfte van die komende naweek voortduur. Die aankoms van ’n koue front Vrydag oor die suidwestelike dele van die Wes-Kaap sal na verwagting ligte buie bring wat met koeler, winderige toestande aan die suidwestelike en suidelike kus en aangrensende binneland gepaard sal gaan.”

Winderige en koel toestande sal Saterdag en Sondag verder oor die Kaapprovinsies inval, veral in die suide, waar buie van tyd tot tyd sal voorkom. “Buie en donderbuie in hierdie tyd kan swaar en ontwrigtend wees oor dele van die Oos-Kaapse kuslyn, veral in die streek tussen Plettenbergbaai en Oos-Londen, insluitend die Gqeberha-gebied. Bitter koue, nat en winderige toestande sal na verwagting oor al die bergreekse van die Wes- en Oos-Kaap intree.”

Die naweek sal ook ’n geleidelike toename in donderstormaktiwiteit oor Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal bring, veral teen Sondag en Maandag. “Swaar reënval, met gepaardgaande hael op plekke, kan ontwrigtende weerverwante voorvalle soos oorstromings tot gevolg hê.”

Die koeler, winderige toestande sal teen Maandag tot KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Gauteng versprei en dit kan met ernstige donderstorms, veral oor die noorde van KwaZulu-Natal en die Hoëveld van Mpumalanga, gepaardgaan. “Hierdie donderstorms sal na verwagting ook teen Maandag na die suidelike helfte van Limpopo versprei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Tipiese weer vir veral die Wes-Kaap oor Paasnaweek. Ek hoop net goeie reën sak uit oor die Oos -Kaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.