Só werk taxibedryf in Wes-Kaap

Die staking het reuseontwrigting veroorsaak. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human en Ella Morrison, GroundUp

Die openbare vervoerstelsel in die Wes-Kaap het meer as ʼn week gelede omtrent heeltemal tot stilstand geknars nadat die minibus-taxibedryf in die provinsie begin staak het.

Taxi’s is verantwoordelik vir sowat 75% van openbare vervoer in die provinsie en vervoer volgens die Wes-Kaapse departement van mobiliteit nagenoeg ʼn miljoen passasiers elke dag. Hulle is ook verantwoordelik vir die lewering van vervoer in gebiede waar geen ander openbare vervoer beskikbaar is nie.

Daar is nasionaal naastenby 1 200 taxiverenigings wat op hul beurt weer hoofsaaklik onder twee sambreelorganisasies val: die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) en die Nasionale Taxi-alliansie (NTA).

Santaco het die staking in die Wes-Kaap gelei.

Santaco bestaan uit meer as 123 000 individuele taxi-operateurs wat nasionaal aan meer as 950 minibus-taxiverenigings behoort, aldus hofstukke wat die raad onlangs by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien het. Dit is veel groter as die NTA. In ʼn onderhoud met Cape Talk het ʼn NTA-woordvoerder gesê die organisasie ondersteun Santaco tydens die staking.

Só werk dit

(Foto: Hansie Linde)

Taxi’s benodig ʼn bedryfslisensie om openbare vervoer te verskaf. Die lisensies word gereguleer en goedgekeur deur die provinsiale regulatoriese entiteite (PRE’s). Santaco het in sy hofstukke aangevoer dat om vir dié lisensie aansoek te doen, ʼn aanbevelingsbrief van ʼn taxivereniging vereis word. Om by ʼn vereniging aan te sluit, kan enigiets tussen R10 000 en R200 000 beloop. (Dit is onduidelik wat die verskil in aansluitingsgelde veroorsaak.)

Op hierdie manier moet ʼn taxi-operateur dus eers deel van ʼn vereniging vorm sodat hy toegang tot ʼn roete kan kry en ʼn bedryfslisensie aan hom toegeken kan word.

Presiese data oor hoeveel die bedryf verdien en bestee, is moeilik om op te spoor. Hier is wat GroundUp wél kon vind:

Die taxibedryf genereer volgens ʼn 2021-verslag van die Mededingingskommissie sowat R100 miljard per jaar.

“Die voertuie reis jaarliks sowat 19 miljard km en die algemeenste modelle is die Toyota Quantum Ses’fikile, gevolg deur die Nissan Impendulo.

“Die meeste van die voertuie het ʼn vervoerkapasiteit van tussen 13 en 16 passasiers,” lui dieselfde verslag.

In September verlede jaar het die voormalige Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, Bonginkosi Madikizela, gesê die minibusbedryf in die provinsie verdien sowat R1,5 miljoen per dag in vergelyking met R240 000 vir die Golden Arrow-busdiens en R35 000 vir die MyCiTi-busdiens.

Prof. Andrew Kerr, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Skool vir Ekonomie, sê daar was oor die afgelope paar jaar na raming waarskynlik tussen 15 000 en 20 000 taxibestuurders in Kaapstad.

(Foto: Hansie Linde)

Nasionaal is daar na raming tussen 200 000 en 250 000 minibus-taxibestuurders; Kaapstad is dus verantwoordelik vir tussen 7% en 10% van die nasionale geheel.

ʼn Besprekingsdokument van die nasionale departement van vervoer (2020), dui aan dat tussen 63 000 en 100 000 van die sowat 200 000 minibus-taxi’s onwettig sake doen – met ander woorde, byvoorbeeld sonder ʼn bedryfslisensie.

Die Wes-Kaapse taxistaking het ook duisende taxibestuurders vir langer as ʼn week sonder enige inkomste gelaat. Hul inkomste verskil na gelang van die dag en die roete.

Een taxi-eienaar en -bestuurder wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, sê die gemiddelde daaglikse teiken is tussen R800 en R1 000. Hy werk op roetes van Wynberg, Mitchells Plain en Grassy Park. Volgens hom verdien bestuurders wat na die Kaapstadse middestad ry meer geld – met ʼn teiken van tussen R1 000 en R1 200.

Die taxibestuurder betaal sy “gaatjie” – die persoon wat die skuifdeur oop- en toemaak – tussen R150 en R250, na gelang van die dag. Brandstof beloop tussen R700 en R800 per dag. Op ʼn slegte dag neem ʼn taxibestuurder soms geen geld huis toe nie.

Dié taxi-eienaar het sy bussie tweedehands vir R120 000 gekoop en hy sê hy kan geen versekering bekostig nie. Op die dae ná betaaldag is daar veel meer geld te verdien, en dan weer minder inkomste van omtrent die vyfde van die maand tot weer ná betaaldag.

Geweld, misdaad

(Foto: Hansie Linde)

Geweld tussen diegene geaffilieer by die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) vlam egter gereeld op. Dít is twee van die grootste taxiverenigings in die Wes-Kaap en albei behoort aan Santaco.

In sy 2021-’22-jaarverslag sê die Wes-Kaapse regering dat geweld in die minibusbedryf ʼn “rekordhoogtepunt” bereik het en dat busdienste gereeld aangeval word.

Volgens die provinsie was daar tussen 1 April 2021 en 31 Maart verlede jaar 110 taxiverwante moorde en 71 poging-tot-moord-voorvalle wat by die departement van vervoer aangemeld is. Een van die moorde het ingesluit dié van Victor Wiwi, president van Cata.

ʼn Verslag van die Global Initiative Transnational Organised Crime raam dat byna die helfte van alle huurmoorde tussen 2015 en 2020 met die taxibedryf verband hou.

Ander openbare vervoer, deesdae veral Golden Arrow-busse, kry boonop al baie lank sterk teenkanting uit die taxibedryf. Sedert verlede Donderdag is 10 Golden Arrow-busse aan die brand gesteek.

Die taxibedryf is ook al daarvan beskuldig dat hy Kaapstad se ander openbarevervoerstelsels, MyCiTi en Metrorail, nou al jare lank saboteer. In 2017, ná ʼn taxistaking wat glo met interne Santaco-konflik verband gehou het, is verskeie MyCiTi- en Golden Arrow-busse met klippe bestook en aan die brand gesteek.

In Augustus 2018 het MyCiTi sy dienste in Khayelitsha opgeskort nadat verskeie van sy busse aangeval is. Later dieselfde jaar is nog nege busse met petrolbomme bestook en skade van sowat R22 miljoen is aangerig. ʼn MyCiTi-bushalte en twee busse is ook in Junie 2020 aan die brand gesteek.

Golden Arrow het sy dienste in 2021 verminder ná ʼn busbestuurder op die N2 geskiet is.

Verlede jaar het ʼn taxibestuurder wat skuldig bevind is dat hy ʼn Metrorail-trein aan die brand gesteek het, erken dat hy meer geld verdien wanneer die treine nie loop nie. Twee treine by Kaapstad-stasie is in 2019 aan die brand gesteek; die skade het sowat R33 miljoen beloop.

Tussen 2013 en 2019 is 214 treinwaens landwyd uitgebrand. Kaapstad se Metrorail-infrastruktuur het van 90 waens in 2015 tot net 44 in 2018 gekrimp. Die meeste van die aanvalle op treine is in die Wes-Kaap.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anel ·

En alles sonder om ‘n sent se belasting te betaal. Die taxiverenigings is net ander vorm vir die mafia. Gun niemand anders iets nie. Maak soos ons sê of julle sal spyt wees!

Mnr De Beer ·

Taxi-staking was niks minder as intimidasie. Ek het n gevoel dat dit is die ANC se poging om die Wes-Kaap te probeer destabiliseer met n Taxi-staking deur dit politieke issue te maak. Ek kan verkeerd wees.

Charles ·

Die taxi debakel is n simptoom van n siekte. En daardie siekte is demokrasie.

Marthinus Johannes ·

Iewers word inligting weggesteek of hulle LIEG dat die biessies bewe. Die taxi bestuurder maak tussen R20,000 en R45,000 n maand na sy brandstof en “Gaaitjie” betaal is.

Owlie ·

Hulle praat hier van baie groot bedrae – wie is die baas brein agter hierdie taxi vereniging, wie verskaf hierdie Toyota Quantums, daar is baie vrae met “WIE”
Op die ou endvus al hierdie punte oortredings van Suid Afrikaanse wetgewings. Laat n gewone werker, onderwyser, verpleegster, Uber eienaar net een van hierdie oortredings doen verloor jy jou werk, besigheid, voertuig en vryheid

annie ·

Binnekort sal niemand meer met hul eie motors werk- of stadtoe mag ry nie, indien hierdie belagtige situasie voortduur.

Anel ·

Dit het al hier by ons gebeur waar taxibestuurders motors met passasiers aftrek en dan die passasiers uit die motors pluk. Gelukkig het die polisie in gegryp.

Sean ·

Kortliks : die taxis is in beheer!!! Eie reels eie wette en betaal geen belasting nie

Juanita ·

Niks gaan verander nie. Onskuldige mense gaan steeds hulle lewens verloor agv nalatigheid. Kyk net hoeveel kinders is al dood net in 2023 agv Taxi verwante ongelukke. Nie een van hulle kan onderhandel of hulle nog wou lewe nie.

Jackie ·

Die taxi bedryf se wetteloosheid is die vrug, of liewer turksvy, van die ANC se vorm van regering met geen verantwoordbaarheid op enige vlak nie. Die Dept v Vervoer het vir 25jaar toegelaat dat hulle, die taxi’s en hul onderskeie verenigings, nooit tot verantwoording vir wetsoortreding geroep word nie. Die Wes Kaap se regering is die enigste regering wat poog om dié situasie reg te stel. Hulle verdien almal se ondersteuning.

Leana ·

Volgende betoging oppad vir dienslewering, hulle het mos nou die paaie opgeneuk en nou moet ander mense hulle gemors kom skoonmaak.

Gert ·

Raak ontslae van die hele taxi bedryf. Hulle wil als he en duld geen kompetiesie nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Wes-Kaap regering kan hul magte gebruik om die taxi bedryf in die provinsie vinnig te sink. Ongelukkig besit politici en amptenare ook taxis.

bolletjie blom ·

En hierdie taxis behoort aan politici. Geen wonder hulle is so wetteloos nie.

Wondermaarnet ·

Dink die taxi base ons glo dat hulle vir 8 dae sou staak en nie ‘n sent maak nie? Sekerlik het die ANC die taxi base se sakke vol gehou en op sy beurt het Rusland die ANC befonds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.