Soektog duur voort na tienerseun in see

(Argieffoto)

Die soektog na ʼn tienerseun wat sedert Sondagmiddag in die see in die Strandfontein-gebied in Valsbaai naby Kaapstad vermis word, duur voort.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Dinsdagoggend bevestig die polisie se duikeenheid soek steeds na die 15-jarige seun van Belhar.

Maroela Media het vroeër berig die NSRI Strandfontein is Sondag omstreeks 13:22 ontbied ná berigte van ʼn moontlike verdrinking by Fisherman’s Walk. Twee vaartuie, NSRI-reddingswemmers, lewensredders, lede van die provinsiale nooddienste en die duikeenheid is na die toneel ontbied om na die seun te soek wat onder die water verdwyn het.

Die soektog het egter nog niks opgelewer nie.

ʼn Vrou het Sondag byna in dieselfde gebied verdrink. Die NSRI is omstreeks 14:30 weer na die Strandfontein-gebied ontbied nadat ʼn vrou in die see by die Sonwabe-strand in die moeilikheid beland het.

“By ons aankoms is die vrou reeds deur ʼn omstander uit die water gehaal. Paramedici het haar begin behandel en sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem,” het Lambinon die naweek gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.