Soektog na motoris wat sewejarige omry

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Hansie Linde)

ʼn Klopjag is in die Phalaborwa-omgewing in Limpopo van stapel gestuur nadat ʼn motoris Donderdag ʼn sewejarige kind doodgery het.

Lt.kol. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, sê Precious Kgaugelo Moshato het die oggend saam met haar ouma aan die kant van die pad gestap toe ʼn rooi Volkswagen Polo haar glo getref het. Precious was op pad skool toe ten tyde van die voorval.

Die motoris het versuim om ná die ongeluk stil te hou en het glo van die toneel af gevlug. Die voorval het op die R71 naby die Majeje-brug plaasgevind.

Die gr. 2-leerder van Phulanibyihola-laerskool het leweloos in die pad gelê toe die polisie en nooddienste op die toneel aangekom het.

“Die kind was in ʼn kritieke toestand en is kort daarna op die toneel dood verklaar,” sê Seabi.

Die polisie het ʼn saak van strafbare manslag geopen en soek nou op groot skaal na die motoris.

“Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagte in hegtenis te neem, kan die betrokke ondersoekbeampte by 079 979 6391 skakel.”

Die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sandra ·

Ek hoop hulle spoor die blikskottel op. So tragies. My simpatie gaan aan die familie van Precious oor haar afsterwe

Twallie ·

Wat se tipe mens doen so iets? Nogal ‘n kindjie ook. Ek verloor elke dag bietjie meer geloof in die mensdom.

Phillip ·

Kry die Ouma baie jammer sy het dit als beleef en gesien . Dit moet vir haar erg dramaaties wees . Ek sal in n malhius beland

Hannelize ·

Dit is vreeslik hartseer. Ouma ons dink aan jou wat alles gesien nie. Vir die res van die familie baie sterkte.
Ek weet hoe hulle op die R71 ry. My man was self daar in ‘n ongluk so paar jaar terug. Die meeste “mense” wat daar ry. Gee dood eenvoudig nie om hoe hulle ry nie.

ONTPS ·

Innige simpatie met die meisie se familie. My pa het my geleer dat volwassenes moet seker maak dat hulle aan die kant van die pad loop as daar kinders is, sodat as só ‘n ongeluk gebeur, die kind (in teorie) beskerm word. Dieselfde met ‘n man en ‘n vrou, die man loop aan die pad se kant. So jammer dat die ongeluk gebeur het

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die dogterjie se Ouma en naasbestaandes. Mag hul die wese vinnig en spoedig opspoor en laat boet vir sy aaklike optrede. Kan nie sê padvark nie want dan word die arme onskuldige viervoetige varke beledig.

efjy ·

Die kind is dood, afhangende van die omstandighede moet die skuldige op klag van moord verhoor word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.