Sol-Tech bied nou ook kwalifikasie in kinderontwikkeling

Paul van Deventer tydens die bekendstelling van Sol-Tech se nuwe kwalifikasie vir vroeë kinderontwikkeling. (Foto: Maroela Media)

Voornemende studente wat daarin belang stel om in die rigting van vroeë kinderontwikkeling te studeer, kan nou by Sol-Tech inskryf vir dié kwalifikasie.

Sol-Tech se nuwe Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO)-kwalifikasie is Dinsdag by die instansie se hoofkampus in Monumentpark, Pretoria, bekendgestel. Kleuterskoolhoofde en ander kernrolspelers het die geleentheid bygewoon.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het ook aangekondig die eerste studente sal al vanaf Junie vanjaar met dié kursus kan wegspring.

“Sol-Tech is besonder opgewonde om op so ʼn manier nog meer jongmense indiensneembaar te maak. In Suid-Afrika is daar ʼn geweldige tekort aan mense wat spesifiek goed vir die vroeëkinderontwikkelingsfase opgelei is,” sê Van Deventer.

“Kinders tussen van 0 tot 5 jaar oud, wat blootgestel word aan goeie opleiding, ontvang ʼn stewige fondament om eendag goed te kan presteer. Navorsing toon daar is tans ongeveer sewe miljoen 0- tot vyfjariges in Suid-Afrika. Die impak wat ʼn goed opgeleide praktisyn op hierdie segment van die samelewing kan hê, is beduidend.”

Volgens Van Deventer wys navorsing die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe is die belangrikste; dit is die tyd wat die brein die vinnigste groei en soos ʼn spons alles om hulle absorbeer.

Ondervindinge gedurende dié tyd vorm die argitektuur van die ontwikkelende brein en op hierdie manier word neurologiese fondamente vir lewenslange leer gevorm. Om hierdie rede is vroeëkinderjare-opleiding van kritieke belang.

“Sol-Tech is slaggereed om goed opgeleide vroeëkinderjare-ontwikkelingspraktisyns op te lei om so seker te maak dat klein kindertjies eendag hul volle potensiaal kan bereik om in die toekoms ekonomies aktiewe volwassenes te wees wat ʼn positiewe invloed op die volgende generasie uitoefen.

“Ter wille van ons kinders se kinders is ons reg om die boublokke vir ʼn goeie toekoms ook op so ʼn wyse neer te lê.”

Lynette Beer was ‘n gasspreker tydens die geleentheid. (Foto: Maroela Media)

Die kwalifikasie is op NKR-vlak 4 en sal op ʼn gemengde model aangebied word waar studente deur die omgekeerde klaskamermetode tuisstudie doen en kontaksessies in die middae op Sol-Tech se kampus moet bywoon.

Werkplekgeïntegreerde leer vorm ʼn belangrike komponent van die kwalifikasie en is spesifiek gemik op skoolverlaters wat in ’n preprimêre skool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk, maar ’n formele kwalifikasie wil verkry, au pairs, kinderoppassers, dagmoeders en tuisskoolmammas wat met kinders tussen nul en vyf jaar oud werk.

Die intreevlak-kwalifikasie bekwaam studente om met babas, peuters en kleuters (0 tot 5 jaar) te werk.

Sol-Tech is die enigste instansie in Suid-Afrika wat hierdie kwalifikasie in Afrikaans gaan aanbied. Die kwalifikasie duur ongeveer 12 maande en die bekende onderwyskundige dr. Reda Davin was betrokke by die ontwikkeling daarvan.

Aspekte soos voeding, gesondheid, ouderdomspesifieke aktiwiteite, deernis en toegeneentheid, sosiale interaksie asook leergeleenthede word as deel van die kwalifikasie gedek.

Benewens die teoretiese onderbou plaas die kwalifikasie ook sterk klem op die praktiese toepassing.

Daarom het Sol-Tech gehou by die suksesresep wat sy ambagstudente so gesog maak, naamlik dat die teorie, toepassing en werksplek-ervaring hand aan hand moet loop.

Studente kan uitsien na ses maande se teoretiese onderrig op kampus waartydens toegepaste praktiese waarneming gelyktydig by ʼn kleuterskool plaasvind. Hierna vind werksgeïntegreerde leer vir drie tot ses maande by ʼn kleuterskool plaas.

Sol-Tech is in 2007 deur Solidariteit gestig om studente met kritieke en skaars vaardighede toe te rus. Agt ambagsgerigte kwalifikasies word tans aangebied, naamlik vir elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, meulmakers, gereedskapmakers, passers-en-draaiers, megatroniese tegnici, vervoer (outo)-elektrisiëns en sweisers.

In 2023 is drie IT-kwalifikasies by die programaanbod gevoeg, naamlik data en wolk, IT-ondersteuning en -netwerke en kubersekuriteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Toergids ·

Die Afrikaner is die enigste groepering in die land wat aktief bou aan ‘n beter toekoms, hier is net nog ‘n bewys

Republikein in die Wes Kaap ·

Toergids, jy is reg. Maar jy ken die storie. Ons bou, dan deel ons, en later gee ons weg. Dis seker maar wie ons is.

Sandra ·

Ai-ai, ek is so hartseer nou om die Kaap te woon, my kind doen so ‘n kursus, maar in Engels, Sy sukkel ook om werk te kry, want niemand wil haar in diens neem nie omdat sy nie die nodige ondervinding het nie. Wat is julle toelatingsvereistes – sy was in ‘n ‘vaardigheidskool en was vroeë kind ontwikkeling haar praktiese vak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.