Solidariteit terug hof toe oor Poskantoor se medies

(Argieffoto)

Solidariteit is Donderdag weer in die arbeidshof in Johannesburg in ʼn poging om die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) te dwing om weer agterstallige bydraes van huidige werkers en pensionarisse aan die mediese skema MEDiPOS te betaal.

Die mediese fonds dreig om die betrokke lede se dekking van 1 Oktober op te skort weens die miljoene rand wat die Poskantoor hom vir bydraes skuld. Van die lede, ook pensioenarisse, het boonop aanmanings ontvang vir duisende rande wat hulle kwansuis aan die fonds skuld.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê die vakbond is vandag namens sowat 40 bykomende lede terug in die hof om te probeer verseker dat hulle agterstallige bydraes ook vereffen word. Die bydraes beloop ook etlike miljoene rand.

Van der Bijl sê die Poskantoor trek die bydraes van lede se salarisse af, maar betaal dit nie aan die mediese skema oor nie. Solidariteit vra die hof op ʼn dringende basis om die Poskantoor te dwing om dit te doen.

Sapo het die afgelope maand reeds meer as R3 miljoen aan agterstallige mediesefondsbydraes namens werknemers wat Solidariteit-lede is, aan MEDiPOS betaal nadat die vakbond hom vroeër ook tot die hof gewend het. Hierdie werkers se voordele bly van krag nadat die mediese fonds die betaling ontvang het.

Vandag se aansoek word op ʼn soortgelyke grondslag ingedien.

In September verlede jaar was Solidariteit ook in die hof en ʼn bevel is in daardie stadium toegestaan dat die Poskantoor van April tot Desember vanjaar maandeliks R50 miljoen aan MEDiPOS in bydraes moet oorbetaal. Daar is nie by die bevel gehou nie en die laaste betaling was einde Julie.

Rensché Botjes, ʼn 94-jarige oudwerker van die Poskantoor, is een van diegene wat geraak word. Haar gedeelte van die mediesefondsbydrae word nog die heeltyd van haar pensioen afgetrek. Sy het onlangs egter ʼn aanmaning gekry om self ʼn agterstallige bedrag van sowat R125 000 aan MEDiPOS te betaal.

Die mediese fonds het reeds aangedui dat Botjes se dekking opgeskort gaan word indien die betaling nie gedoen word nie.

“Sy is ʼn 94-jarige tannie wat pensioen ontvang. Dit is belaglik,” sê Dana Botjes, Rensché se dogter.

Dana sê sy het reeds begin navraag doen om haar ma as volwasse afhanklike op haar eie mediese skema te plaas indien die MEDiPOS-dekking die naweek gestaak word.

“Ek weet nie hoe maklik dit gaan wees nie. Ek is beslis baie bekommerd.”

Solidariteit sal Botjes op ʼn ad hoc-basis probeer bystaan indien enige regstappe teen haar oor die agterstallige bedrag gedoen word.

MEDiPOS het vroeër aangedui diegene wie se bydraes opbetaal is, sal bevestiging hiervan kry “sodat hulle nie negatief geraak of blindelings deur diensverskaffers weggewys word nie”. Daar was die afgelope paar dae egter reeds klagtes dat diensverskaffers MEDiPOS-lede begin wegwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Poskantoor . . . Nes Eskom, myne & Spoorweē was eens op n tyd dié plek om by te werk
Vandag n skande

Hennie ·

Betaal die pos kantoor ooit die werknemers belasting oor? Verdomde goed neuk ney alles op. In die ou dae was hierdie bedrog! Vandag is dit sommer niks…

DapperWoef ·

Ek het ook gewonder…

Moet die PO se finansiele beamptes nie al lankal oranje pakkies gedra het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.