‘Son sak oor gevalle polisiebeamptes’

(Foto: Verskaf/Kopano Tlape)

Die polisie het Sondag sy jaarlikse nasionale gedenkdag gehou om polisiebeamptes en reserviste wat hul lewens tydens die uitvoering van hul pligte verloor het, te vereer.

Maroela Media het vroeër berig die polisie wy jaarliks die eerste Sondag van September daaraan om sy manne en vroue in blou, wat die hoogste prys betaal het om alle mense wat in Suid-Afrika woon, veilig te hou, te huldig.

“Dit was lede wat geweet het wat die risiko’s en gevare verbonde aan hierdie roeping is, maar tog toegewyd gebly het om alle mense binne Suid-Afrika se grense te dien en te beskerm,” het Vincent Magwenya, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, gesê.

As deel van die verrigtinge het Ramaphosa sowel as Bheki Cele, minister van polisie, genl. Fannie Masemola, nasionale kommissaris van die polisie, en naasbestaandes van die beamptes, kranse ter ere van die oorledenes gelê.

“Terwyl die son vanoggend op ons skyn soos ons in die hoofstad bymekaarkom, het die son ongelukkig te vroeg oor meer as 30 van ons eie gesak,” het Cele tydens die verrigtinge gesê.

“Op die somber maar tog baie belangrike dag kom ons bymekaar om beamptes te eer wat die hoogste prys betaal het om ons veilig te hou.

Cele sê 34 polisiebeamptes, onder wie vier vrouebeamptes, is van April verlede jaar tot Maart vanjaar wreed vermoor terwyl hulle in Suid-Afrika aan diens was.

(Foto: Verskaf/Kopano Tlape)

“Dit stem ʼn mens voorwaar tot nederigheid om die bewys van ondersteuning aan die polisie te sien deur die teenwoordigheid van alle genooide gaste wat hierdie moeilike reis saam met ons stap.

“Die son kan dalk sak, maar herinneringe sal vir ewig bly. Ons hoop dat vandag se seremonie nie wonde oopmaak nie, maar dat dit vertroosting en afsluiting bring.”

Pres. Ramaphosa sê aanvalle op polisiebeamptes moet dringend tot ’n einde kom en dat daar geregtigheid moet wees vir die families van die gevalle lede.

“Die harde werk van die Valke het tot die inhegtenisneming van 76 vermeende polisiemoordenaars die afgelope jaar gelei. Hierdie sake is tans voor verskillende howe,” het Ramaphosa tydens die gedenkdag gesê.

“Altesaam 488 verdagtes is sedert 2018 vir die moord op polisiebeamptes in hegtenis geneem. Deur ywerige ondersoekwerk is nege veroordeelde polisiemoordenaars nege lewenslange vonnisse opgelê, dit wil sê 158 jaar gevangenisstraf in totaal.”

Altesaam 34 name is vanjaar op die nasionale gedenkmuur by die Uniegebou bygevoeg en gegraveer om dankbaarheid te betuig vir hul dapperheid en lojaliteit om alle gemeenskappe binne Suid-Afrika se grense te dien en te beskerm.

Magwenya sê Ramaphosa het na die bedroefde families uitgereik en woorde van vertroosting en ondersteuning met elke familielid gedeel.

Hy het ook die groep polisieleerlinge toegespreek wat tans opleiding by die Tshwane‑polisie-akademie ontvang.

Die polisie se werknemersgesondheid en welstandkomponent (EHW) gaan voort om sielkundige en geestelike ondersteuning aan die families, vriende en kollegas van die afgestorwe beamptes te verleen.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf/Kopano Tlape)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Helen ·

Hoekom gee hy nie die aantal wat polisiemanne wat in hegtenis geneem is die afgelope paar maande nie. Laasweek 22

trotsNAMSA ·

Rus in vrede my kollegas. Ons wat nog opreg omgee en die regte pad loop vir SA , sal julle nooit vergeet nie .

Lillian ·

As hierdie memorial regtig gegaan het oor die lede wat hul lewens verloor het, sou die minsters nie ook op die fotos gepronk het nie. Net nog ‘n platform vir die anc om op die voorblaaie te pryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.