Soveel geld kry elke provinsie vir onderwys

Angie Motshekga. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die verskillende bedrae wat aan elke provinsie oorgedra word om aan skoolonderrig te bestee in die parlement openbaar gemaak.

Die departement van basiese onderwys is een van die min departemente wat in die aangepaste begroting soos aangekondig deur die minister van finansies, Tito Mboweni, meer geld kry as in die aanvanklike Februarie-begroting.

KwaZulu-Natal kry die meeste geld, naamlik R57,2 miljard (5,9% meer as verlede jaar). Dan volg Gauteng met R53,6 miljard (ʼn styging van 7,6%), die Oos-Kaap met R37,8 miljard (ʼn styging van 4,1%), Limpopo met R33,9 miljard (ʼn styging van 5%), die Wes-Kaap met R25 miljard (ʼn styging van 5,5%), Mpumalanga met R23,9 miljard (ʼn styging van 7,3%), Noordwes met R18,4 miljard (ʼn styging van 7,6%), die Vrystaat met R16 miljard (ʼn styging van 8,8%) en die Noord-Kaap met R7,2 miljard (ʼn styging van 4,3%).

Die aankondigings oor beleid en aktuele kwessies is grootliks oorgelaat aan die adjunkminister van onderwys, Reginah Mhlauli.

Mhlauli het gesê navorsing deur die Universiteit Stellenbosch het bevind dat matrikulante tot in 2031 ʼn verswakking in vaardigheidsvlakke kan ervaar as die staat nie nou ingrypend die regte besluite neem nie. Die regte regeringsbesluite kan egter daardie skade beperk sodat dit nie verder as die matrikulante van 2023 sal strek nie.

Die departement van basiese onderwys sal dus sy bes doen om die regte stappe te volg, soos uitgestippel. Een van daardie besluite is om kinders graad vir graad te laat terugkeer skool toe – nie almal gelyk nie.

Mhlauli het nogmaals die belangrikheid van die dra van maskers, die was van hande en sosiale afstandhandhawing beklemtoon.

Sy het voorts uitgewys dat die matriekslaagsyfer van 81,3% die hoogste is sedert die koms van demokrasie in 1994. Die beste nuus volgens haar is die styging in die aantal leerders van die armste skole (kwintiele 1 tot 3) wat met universiteitstoelating slaag.

Verbeterde skoolvoeding, skoolvervoer en gesondheidsdienste vir leerders is nog hoogtepunte uit die departement van basiese onderwys se oogpunt.

Wat kurrikulumontwikkeling betref, word algaande meer gefokus op die eise van die vierde industriële rewolusie, en al meer klem val op leesverbeteringsprogramme in die laerskool (graad 1 tot 7), asook op onderrig in Engels as addisionele taal (graad 1 tot 6).

Nog ʼn prioriteit is die verbetering van leesvaardigheid, syfervaardigheid en lees-met-begrip vir die grondslagfase (graad 1 tot 3).

ʼn Belangrike verwikkeling is dat kleuteronderrig eersdaags van die departement van maatskaplike ontwikkeling na die departement van basiese onderwys oorgeplaas word.

Daar is ook bekend gemaak dat kwalifikasies van swart onderwysers omvattend verbeter het. Teen 1994 was net 54% van swart leerkragte genoegsaam gekwalifiseer. Nou is die persentasie ondergekwalifiseerde swart onderwysers statisties onbeduidend, het Mhlauli gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Hulke kan bly wees as hulke hoegenaand ‘n matriekslaagsyfer gaan hê.

Kokerboom ·

Die Minister se foto: Oeee! Nou het ek weer drooggemaak en na liewe vakbonde geluister maar goeie nuus: ek neem kleuteronderwys terug. So..waarom is jul kwaad?!!!!?

Kobus ·

En julle almal weet, die mense is so deurmekaar, voor die einde van die jaar kondig hulle af dat die slaag syfer nou 10% gaan wees, solank die kinders net hulle name kan lees en skryf dan slaag hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.