Spesiale nagwaak vir SA in Australië gehou

Chamonix Terblanche (links) en Pamela Govender van Restore a Smile Australia (Foto verskaf)

ʼn Spesiale nagwaak is die afgelope naweek in Perth, Australië, vir Suid-Afrika gehou.

Chamonix Terblanche, een van die organiseerders van die geleentheid, sê sowat 200 mense het die geleentheid bygewoon en volgens haar kennis is dit die grootste byeenkoms vir enige van die Suid-Afrikaanse funksies wat wêreldwyd gehou is ná die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng. Die byeenkoms is gereël deur Terblanche, van Chamonix TV, en Pamela Govender, nóg ʼn oud-Suid-Afrikaner, van Restore a Smile Australia.

Terblanche het gesê dit is vir hulle belangrik om só byeenkoms te hou omdat oud-Suid-Afrikaners, wat nou in lande soos Australië woon, bekommerd is oor hul families in Suid-Afrika.

Die byeenkoms het begin met die Suid-Afrikaanse volkslied, ʼn gebed en ʼn oomblik van stilte vir die mense wat hul lewens verloor het tydens die onlangse onluste en elkeen wat deur die geweld geraak is.

(Foto verskaf)

Terblanche sê die doel van die byeenkoms is om internasionale bewustheid te skep van burgerlike opstande in Suid-Afrika en die gebeure onder die aandag te bring van wetmakers in lande soos Australië. “Baie Suid-Afrikaners wil na Australië kom, maar dit is baie moeilik om toelating te kry. Ons wil dit graag onder die aandag bring van wetmakers in Australië dat hulle sal kennis neem van die situasie in Suid-Afrika en dat daar mense is wat daagliks vir hul lewe vrees.”

Die byeenkoms het ook ten doel gehad om ʼn gebed te doen en God se seën uit te spreek oor Suid-Afrika en om te wys dat elkeen wat die geleentheid bygewoon het, in eenheid staan saam met Suid-Afrikaners.

Terblanche is ʼn entrepreneur en ʼn raadslid by een van die grootste munisipaliteite in Perth. Hul gesin woon al 16 jaar in Australië.

Deur Chamonix TV help sy Suid-Afrikaners al jare lank om die pad na Australië makliker te maak. “Ons tree op as bemoediging, ʼn bron van inligting en bied ʼn helpende hand vir voornemende emigrante.”

Talle mense het Terblanche genader en wou weet hoe hulle positief kan bydra tot die situasie in Suid-Afrika en het haar gevra om ʼn geleentheid te reël waar die wêreld bewus gemaak kan word van toestande in Suid-Afrika, omdat media oorsee nie veel dekking daaraan gegee het nie.

“Ek bly dalk ver van Suid-Afrika af, maar Suid-Afrika sal altyd naby aan my hart wees. Ek sal nooit my rug draai teen my mense se noodkrete nie,” het sy aan Maroela Media gesê. Sy het ook steeds familie in Suid-Afrika.

“Ek probeer altyd om die vaandel te dra wat, veral hier in Australië waar ek bly, vir die mense en politici sal wys hoe baie mense in Suid-Afrika bang is hulle word vermoor. Daar is so baie Suid-Afrikaners wat bitter graag na Australië wil verhuis vir veiliger weivelde, maar die Australiese visumvereistes is baie streng. My hoop is dat die Australiese stelsel ʼn sagte oor sal hê wanneer hulle visum-aansoeke uit Suid-Afrika ontvang.”

Terblanche sê die geleentheid was ʼn wonderlike geleentheid vir diegene wat reeds oorsee bly, om aan mense in Suid-Afrika te wys dat hulle hul nog steeds ondersteun en met hulle saamstaan.

Senator Matt O’Sullivan tydens die geleentheid (Foto verskaf)

Senator Matt O’Sullivan het ook die geleentheid bygewoon. “Ek was nog nooit self in Suid-Afrika nie, maar daar is so baie Suid-Afrikaners wat al ʼn groot impak gemaak het op my lewe,” het hy tydens die geleentheid gesê. “Wanneer ek dink aan Suid-Afrika, dink ek veral aan die toewyding wat mense vir mekaar het. Ek staan vandag graag in solidariteit met almal in Suid-Afrika: weet dat ons, in westelike Australië, se harte by julle is.”

Terblanche sê hulle het ná die byeenkoms ook talle boodskappe ontvang van mense wat hul waardering wou uitspreek vir die geleentheid.

“Ek het ʼn groot mate van verligting ervaar tydens die nagwaak. Dit het gevoel soos ʼn gedenkdiens vir al die geliefdes wat ek al deur die jare aan die dood afgestaan het en die begrafnisse wat ek misgeloop het – om nie te praat van diegene wat weens Covid-19 gesterf het of tydens die onlangse onrus nie. Ek het al tred verloor met hoeveel lewens ons verloor het,” het een geskryf.

Volgens Terblanche is daar versoeke om dit ʼn jaarlikse geleentheid te maak.

Klik hier om ‘n video van die geleentheid te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.