Springbokke hou nog koers

Die Springbokke. (Foto: GB Jordaan)

Die groot vraag wat ná Saterdag se tweede reeks wedstryde in vanjaar se Rugbykampioenskap gevra word, is watter span tevrede kon gaan slaap het.

Beslis die All Blacks, wat ná twee indrukwekkende oorwinnings oor die Argentynse Poemas (41-12 in Mendoza) en die Springbokke (35-20 in Auckland), die voorloper in die reeks is en heel waarskynlik as vanjaar se kampioen gekroon sal word.

Die All Blacks sal Maandag straks ook saam met Frankryk tot tweede op Wêreldrugby se ranglys opskuif agter die Iere, met die Springbokke steeds vierde.

Die Bokke se nederlaag is wel ʼn tydelike terugslag, maar dit hoef nie in hul pad te staan vir hul aanslag by vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk nie.

Ja, vir momentum, selfvertroue en kontinuïteit is dit belangrik, maar nie die alfa en omega nie.

Wat wel gebeur het, is dat daar dadels van sekere voorspellings gekom het.

Vooraf is daar gesê dat die All Blacks vanjaar gaan sukkel omdat hulle nie meer teen die fisieke Suid-Afrikaanse spanne in die Super Rugby Pacific-reeks gespeel het nie. Verkeerd.

Vooraf is wyd bespiegel dat die Bokke ʼn voordeel sou hê omdat hulle vooraf die meerderheid van die spelers na Nieu-Seeland gestuur het om voor te berei. Die All Blacks, wat verlede Saterdag in Mendoza teen die Argentynse Poemas gespeel het, het eers Maandagaand in Nieu-Seeland aangekom en sou van vlugflouheid gekla het. Verkeerd.

Vooraf is daar gesê dat die Bokke se sogenaamde “Bomb squad” die skaal in hul guns sou swaai. Hulle het weliswaar ʼn verskil gemaak, want die Bokke het die tweede helfte met 17-15 gewen, maar steeds die wedstryd verloor.

Tog is daar heelewat vrae wat ná die nederlaag gevra kan word.

Hoort Kurt-Lee Arendse nie eerder in die beginspan bo Makazole Mapimpi nie? Is André Esterhuizen op huidige spelpeil nie ʼn beter keuse as Damian de Allende op binnesenter nie? Wie moet losskakel speel en wie moet pale toe en kantlyn toe skop?

Is Faf de Klerk steeds die aangewese keuse op skrumskakel bo Cobus Reinach? Moet Malcolm Marx nie eerder as Bongi Mbonambi begin nie, is Duane Vermeulen nie ʼn beter keuse as Jasper Wiese op agtsteman nie en moet RG Snyman nie eerder as Lood de Jager in die beginspan wees nie?

Toe die Bokke in 2007 en 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, was hulle ook nie onoorwonne nie.

In 2007 het die Bokke voor die WB-toernooi in Frankryk twee keer teen die All Blacks (21-26 en 6-33) slae gekry en is hulle ook deur die Wallabies met 25-17 geklop. Tog het hulle die Wêreldbeker gelig.

In 2019 is die Bokke deur die All Blacks geklop en het hulle ook een keer gelykop teen die All Blacks gespeel voordat hulle in Japan weer die Wêreldbeker gelig het.

Daar is baie min te kies tussen die topvier-spanne: die Iere, Franse, All Blacks en Springbokke.

Engeland, Wallis, Skotland, die Poemas asook die Wallabies is boonop piesangskille waarop enige span kan gly en moenie van Fidji, Tonga, Samoa en Japan vergeet wat dalk vir ʼn groot skok kan sorg nie.

Daar is soveel dinge wat ʼn span kan laat ontspoor, soos beserings en skeidsregters se beslissings (ook rooi en geel kaarte) wat nie na jou kant toe gaan nie.

Dis hoekom Saterdag se neerlaag teen die All Blacks nie die span in sak en as laat nie.

Dinge is steeds op koers vir die Wêrelbekertoernooi, hoewel daar ʼn waarskuwingsliggie begin flikker het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Kom ons vergeet wat in die verlede gebeur het en konsentreer op die hede.Etsebeth se insluiting was ‘n fout,hy was nie op sy gewone beste nie.Faf was nie akkuraat met sy hoë skoppe nie.Nie Wiese,Kwagga Smith of Lood de Jager was op standaard nie en dan is die hele agterlyn onkant gevang met die All Blacks se benadering om met ele bal te hardloop.Verlede week teen die Wallabies het die span as eenheid saam gespeel.Jy wyk nie af van ‘n wenresep nie mnr.Niksnaber.Esterhuizen versterk die verdediging in die middelvel,Mosterd is ‘n slot.Maevin Ori sou beter gevaar het as de Jager en Marco van Staden is ‘n moet saam met Duan Vermeulen.

piet ·

Ons sal verloor in die kwarteindstryd by die RWB. Beide Frankryk en die All Blacks (ons sal teen een van hulle moet speel) is beter as ons maak nie saak wie ons kies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.