Spur-konsessiehouers: ‘Gee ons nou kans om reg te maak’

Argieffoto

Pieter Kruger, ʼn konsessiehouer van die restaurantgroep Spur, is tans in Grahamstad waar hy ʼn nuwe Spur-restaurant in dié dorp open.

ʼn Gewaagde skuif sou ʼn mens reken, veral in die lig van die herrie wat tans rondom die Spur-handelsmerk woed. Luidens berigte het sommige van die restaurante tussen 25% en 45% verlies aan inkomste getoon nadat die restaurantgroep se reaksie op ʼn video van ʼn woordewisseling tussen twee woedende ouers in Maart by die Texamo-Spur in die suide van Johannesburg op sosiale media versprei is.

Kruger wat self twee Spur-restaurante besit is egter vol hoop vir die toekoms van die handelsmerk, iets waarmee hy self al 21 jaar bemoei is. “Ek het drie dae ná matriek by die Spur in King William’s Town as ʼn kelner aangesluit. Vir ʼn Afrikaanse seuntjie van Cradock was dit nie aldag maklik in die Engelse omgewing nie, maar die Spur is ʼn wonderlike Suid-Afrikaanse konsep met formules en ʼn produk wat werk, en toe ek die geleentheid kry om my eie restaurant te begin het ek dit aangegryp en daarmee gehardloop.”

Hy reken die laaste drie maande was van die taaiste maande wat hy as restauranteienaar nóg beleef het. “Spur se hantering van die debakel en die wegblyaksie wat daarop gevolg het, het ʼn reusagtige impak gehad. Dit was behoorlik soos ʼn ligskakelaar wat afgesit is – op 21 Maart het jy nog ʼn besigheid gehad en op 22 Maart was dit weg.”

Maar as die wegblyaksie dan wel só ʼn groot impak gehad het, wou ek by Kruger weet, waarom het die konsessiehouers nie dan ook druk op Spur se topbestuur uitgeoefen om die hele saak anders te hanteer nie?

“Dit is nie so maklik nie. Jy is maar skrikkerig want jy het baie geld in jou onderneming belê en jy wil nie jou konsessiehouerooreenkoms in gevaar stel nie. Daarmee wil ek glad nie sê Spur is onredelik nie, maar jy kan nie sommer in die publiek die hand wat jou voer aanvat nie.

Kruger is egter een van sewe konsessiehouers wat 150 van die net meer as 300 Spur-restaurante besit, wat die afgelope paar weke besig was met ʼn intensiewe konsultasieproses met die groep se hoofbestuur waarin hulle vir hulle kliënte se saak gepleit het.

Hy reken Spur is nou weer op die regte spoor met topbestuur wat Maandag ʼn verskoning aan kliënte gerig het en gesê het hulle gaan op ʼn “luistertoer” om uit te vind hoe hulle kliënte en konsessiehouers voel.

Kruger is van mening dat die paneel wat Spur aangestel het om hulle hantering van die hele debakel te ontleed,  eintlik onnodig was. “Akademici sou nie vir ons die regte antwoorde gee nie – ek het in my 21 jaar by die restaurantgroep geleer ʼn mens luister na jou kliënte want hulle sal by jou kom kla en jou gou vertel hoe jy jou restaurant kan verbeter.

“Ek dink Spur het uit voeling geraak met ons kliënte se behoeftes. Oral het ek klagtes gehoor oor prys en kwaliteit en dat ons nie meer saam met die mark beweeg nie.

“Die luistertoer is ʼn briljante idee. Nou gaan ons by ons kliënte hoor wat hulle wil hê om Spur beter te maak.”

Kruger reken as daar een goeie ding is wat uit die hele krisis gekom het, is dit dat mense wat werklik passievol oor die Spur-handelsmerk voel nou saamstaan om dit te laat werk. “Die regte mense is nou op die regte plekke om te verseker dat ons ons kliënte kan terugwen.”

Kruger het gesê die verskoning wat Spur se uitvoerende hoof, Pierre van Tonder, Maandag op die restaurantgroep se webwerf geplaas het, is opreg.

“Al wat ons nou vir ons kliënte wil vra is dat hulle ons ʼn kans gee om reg te maak wat verbrou is. Ons wil kliënte nooi om weer by ons te kom eet sodat ons mekaar in die oë kan kyk. Ons wil hulle burger-vir-burger en bord-vir-bord terugwen,” het Kruger bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

195 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mia

Dit is nie reg dat individue gestraf word omdat die groter Spur die situasie baie verkeerd hanteer het nie.

t

Spur gaan sukkel om reg te kom indien hulle nie regmaak waar hulle verbrou het nie. Vrou ook verban of man teruggenooi. Daar is niks anders te doen nie. Maak dit reg en vra die man onvoorwaardelik om verskoning; meer spesifiek vir hom en sy kind.

willie

konsessiehouers moet aandring dat van Tonder waai!

johny_walker

Julle praat en praat , maar wat van die werklike slagoffer , die witkind wat geklap en verneder is in julle spur !!!!!! tot julle die saak met haar reg gemaak het sal ek so waar as die Here leef nooit weer my voete in julle restaurante sit nie , en julle beter net so show opsit daaroor soos jule gedoen het vir die oortreder van die skande

Gerrit

Proe ek nou heuning om my mond?