Spur-voorval ‘een van vele in Centurion’

(Argieffoto: SA Polisie)

Inwoners van Centurion loop die afgelope ruk kwaai deur onder misdaad, soos die afgelope naweek weer gesien is tydens ʼn gewapende rooftog by die Spur-restaurant in die Centurion Lifestyle-sentrum.

Verskeie restaurante is na verneem word die afgelope ruk geteiken.

In Sondagaand se voorval het aanvallers op die eetplek toegeslaan en verskeie skote is tydens die rooftog geskiet. ʼn Reaksiebeampte wat nie aan diens was nie, het sy vuurwapen by hom gehad en een van die aanvallers is in die skietery doodgeskiet. Die ander drie is steeds op vrye voet.

Kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, sê die Wierdabrug-polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

Volgens die polisie is die restaurantbestuurder met ʼn vuurwapen aangehou en aangesê om na die kantoor te gaan, sonder om agterdog te wek. Die veiligheidswag het nietemin onraad bemerk en een van die verdagtes doodgeskiet. Drie ander het gevlug.

Die polisie het ook beslag gelê op ʼn vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is, sê Sello.

Maroela Media het Maandag berig dat Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, saam met sy gesin in die restaurant was toe die voorval gebeur het. “Een van die aanvallers is tydens die skietery doodgeskiet. Na die geskietery – ek kon nie tel hoeveel skote nie – het die ander gevlug. Ons is ongeskonde en sover ek weet is niemand anders beseer nie,” het Roets Sondag op Facebook geskryf.

Llewellynn Hemmens, AfriForum Noordstreek se hoof vir veiligheid, sê daar was beslis ʼn toename in misdaad in die Centurion-gebied. Dit sluit alles in, van die diefstal van hekmotors en fietse, tot dodelike voorvalle van geweldsmisdaad.

Sommige polisiestasies steier boonop weens ʼn gebrek aan hulpbronne en vermoëns om misdaad te bekamp.

Hemmens sê misdaadsindikate beweeg van gebied tot gebied en voorsitters van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en AfriForum se buurtwagtakke bevestig die toename in misdaad.

Hy sê dit is skrikwekkend om te dink dat mense omtrent nie meer ʼn restaurant saam met hul gesin kan besoek, sonder om oor ʼn gewapende rooftog bekommerd te wees nie.

Hemmens sê Roets het reg opgetree deur nie te vries nie en ook nie betrokke te raak nie, maar hulp te ontbied. “Hy het eenvoudig sy gesin beskerm. Ek haal my hoed af vir hom; dit is nie maklik om in so ʼn situasie kalm te reageer nie.”

Hy het ook die betrokke veiligheidswag vir sy blitsige optrede wat moontlik lewens help red het, geloof.

Hemmens sê AfriForum is op nasionale en provinsiale vlak in gesprek met die polisie om te bepaal hoe die organisasie die polisie kan ondersteun om misdaad hok te slaan.

“Dit is belangrik om betrokke te raak in jou gemeenskap. ʼn Mens hoef nie noodwendig fisiek [by ʼn buurtwag of GPF] betrokke te wees nie. Daar is soveel aspekte daaraan, dat daar plek is vir enigiemand.

“Daar is vir almal plek en almal moet betrokke raak,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anel ·

Veiligheidsmaatskappy loop ook toenemend onder misdaad deur. Baie van hulle is dan ook eerste op tonele. Polisie kom laat of gladnie, want hulle is te mins, viertuie onpadwaardig, of hulle is besig met skofruiling wat tot 2 ure neem, om personeel by huise en werk te kry. Die samewrrking tussen die maatskappye en polisie verbeter ook en staan mekaar en die polisie by. Geluk aan die man wat koel en kalm op getree het en so gesorg het dat nog ‘n misdadiger nie weer sal kan moor en roof nie, en dalk ‘n tragedie voorkom het. Hierdie maatskappye hou ook die gemeenskap veilig maar teen ‘n fraksie wat die polisie betaal word. So, as jy by so ‘n voertuig verby ry, waai vir hulle om so waardeering te wys. Hulle beskerm nie slegs hul kliente nie maar die hele gemeenskap. My opinie.

henndrik ·

Wierdabrug polisie kan nie op staatgemaak word nie – daar is geen dissipline en werk word net gedoen soos hulle lus is. Ek is seker as daar ‘n menings peiling in hulle area gedoen word sal dit baie duidelik na vore kom

Vernon ·

Hulle antwoord GLAD NIE hul fone nie..hulle is pateties verby.

Pieter ·

Die rede is dat die kriminele organisasie ANC aan bewind is en die mense keur dit goed. Wat jy saai sal jy maai.

Charllas ·

So die veiligheidswag is hier die “hero”, dis baie goeie werk, die boewe moet weet die mense gaan nie meer langer stil staan nie. Spur is n plek waar 85% van daai mense daar is met kinders, die veiligheidswag het baie lewens gered..... Die boewe gee nie om wie hulle skiet en/of beseer nie as dit noun kind is of nie. Daai wag verdien `n baie groot verhooging, en meer sulke wagte moet by winkel sentrums wees.

VaalDonkie ·

Hoe het jy die code segment ingesit in jou kommentaar?

Vernon ·

Dis opmerklik hoe baie gebiede op hierdie oomblik hard daaraan werk om hul woonbeurt in n afgebakende veilige gebied te omskep. Die SAPS,dis nou Wierdapark-stasie is geheel en al disfunksioneel,die TMD is nie ver agter nie. Dus inwoners is geheel en al uitgelewer aan die gemors wat ons oorval. Ek het in 2 weke 3 veiligheids vergaderings bygewoon. Daar gaan van SA niks oorbly nie,hulle dra als weg,plak orals.

VaalDonkie ·

Ek het in ‘n buurt gewoon wat reg rondom mure gehad het en net een ingang en uitgang. Dit was HEMELS. Dit was so rustig daar dat die enigste ding waaroor hulle op Whatsapp gekla het, hasies in ‘n parkie was. Jy het nie ‘n smous of ‘n verdwaalde bergie gesien nie. En vreemde motors was somer dadelik agtervolg en gewys waar die uitgang is. Ek mis daai plek. Kon net nie ‘n huis daar bekostig nie en die huur was later belaglik (R14000 vir 3 slaapkamers en ‘n klein erf).

Nie Verbaas ·

En Cele slaap ongestoord voort met sy meestal swak opgeleide, onbevoegde en oorgewig BEE polisiemag. Lede word bevorder sonder voldoende kwalifikasies en dissipline ontbreek. Kyk maar net hoe lyk die polisiekollege in Pretoria. En ons geagte Cyril doen absoluut niks daaraan nie.

Di ·

My vraag is net WAAR kry hierdie kriminele die wapens? Cele moet GAAN MET die meeste van die polisielede wat self kriminele is, useless verby

Hendrik ·

Centurion het net ‘n paar toegangswee as jy so na die verkeer kyk in die oggende en daar is geen rede koekom hierdie gedeeltes nie gemonitor kan word nie. Die polisie en TMPD is eenvoudig onbruikbaar en die arme GPF lede solg maar vir die algemene veiligheid in die gebied.

VaalDonkie ·

Sjoe. Dis erg genoeg om by die Spur te eet as daar NIE ‘n rooftog is nie.

Dries ·

Moontlik dieselfde rowers wat by die verskeie voorvalle betrokke is. Jammer net een het gegroet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.