Staatsrede-debat: ‘Ramaphosa, ANC se nalatenskap skets prentjie van verval’

Dr. Pieter Groenewald, Vf Plus-leier. (Foto: Fikile Marakalla/ GCIS)

Die nalatenskap van pres. Cyril Ramaphosa se ses jaar van presidentskap tot nou toe, skets ʼn somber prentjie van algehele verval.

“Op haas elke gebied het die land ingrypend agteruitgegaan,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Dinsdag tydens die debat oor die staatsrede in die Kaapstad-stadsaal gesê.

“Elke persoon se lewensgehalte het ingrypend versleg en midde-in hierdie verval wat almal daagliks sien en ervaar, loop die duidelike spoor van die ANC. Dit kan nie ontken word nie. Dinge soos onafhanklike ekonomiese aanwysers en die staat se eie misdaadsyfers lewer die harde bewyse van die land se agteruitgang onder Ramaphosa.”

Die president het ruiterlik erken dat die ANC die grootste skuldige is wat korrupsie betref, het Groenewald verder gesê. “Dit maak hom die nommer een van beskuldigde nommer een. Nou word ANC- nommer twee, Paul Mashatile, ook van korrupsie beskuldig. Maar niks gebeur nie.

“Die ANC se vuil voetspore met dié van pres. Ramaphosa vooraan, sal lank ná die ANC nog op die Suid-Afrikaanse landskap te sien wees. Dit is tyd vir pres. Ramaphosa en die ANC om te gaan.”

‘Tintswalo se Suid-Afrikaanse droom verraai’

John Steenhuisen (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Ramaphosa het tydens sy staatsrede gesê die storie van die eerste 30 jaar van die land se demokrasie kan ten beste vertel word deur die lewe van ʼn kind genaamd Tintswalo, wat gebore is met die aanvang van vryheid in 1994.

Ramaphosa het gesê Tintswalo was ʼn begunstigde van gratis gesondheidsorg, sy het ʼn huis met basiese water en elektrisiteit gekry, sy het gratis onderrig ontvang en ʼn kinderondersteuningstoelaag het aan haar basiese behoeftes voldoen. Met dié ondersteuning kon Tintswalo hoërskool voltooi en danksy die nasionale finansiële hulpskema vir studente kon sy studeer en ʼn kwalifikasie behaal.

Toe sy begin werk, het sy gevorder en floreer danksy die staat se indiensnemingsgelykheid- en SEB-beleidstellings. Met die inkomste wat sy verdien het, kon sy spaar, met ʼn gesin begin en na ʼn beter huis verhuis om ʼn beter lewe te verdien.

“Dit is die storie van miljoene mense wat sedert die aanvang van ons demokrasie gebore is,” sê die president.

John Steenhuisen, DA-leier, het Dinsdag tydens die debat oor die staatsrede gesê daar is geen twyfel dat die Suid-Afrika waarin Tintswalo ná 1994 grootgeword het ʼn hoopvolle plek was nie.

“Oor die afgelope dekade het sy egter met groeiende afgryse toegekyk hoe die droom van haar kinderdae verraai is. Tintswalo het in 2019 vir u gestem omdat sy geglo het dat u Suid-Afrika sou herstel op die pad waarop dit was toe sy ʼn kind was. Maar tragies genoeg, is haar hoop kort daarna weer verpletter.

“In dieselfde jaar wat mnr. Ramaphosa verkies is, het Tintswalo die eerste en enigste werk wat sy ooit gehad het, verloor omdat die fabriek waar sy gewerk het, moes sluit weens die beurtkragkrisis wat die president beloof het om te beëindig. Sy is gedwing om by ʼn plakkershut aan die buitewyke van die stad in te trek en terug te keer na dieselfde lewe van armoede wat sy gedink het sy vir altyd agtergelaat het. Sy is sedertdien werkloos. Dinge het van sleg tot erger gegaan. In 2022 het haar pa een van die 75 mense geword wat elke dag in Suid-Afrika vermoor word.”

Volgens Steenhuisen is Tintswalo klaar gewag vir die ANC om te verander en het sy aanvaar dat dit nooit sal gebeur nie.

“U sien, meneer die president, soos miljoene ander Suid-Afrikaners, kan Tintswalo nie bekostig om in die verlede te lewe nie. Sy moet oorleef in die werklikheid van wat Suid-Afrika in 2024 is, nie in die herinneringe van wat Suid-Afrika in 1994 was nie. Toe Tintswalo Donderdag na haar president luister, het dit haar nie dankbaar gemaak soos hy dalk gehoop het nie. Want hier is die harde waarheid, meneer die president, of jy daarvan hou of nie: jy het Tintswalo se Suid-Afrikaanse droom verraai.”

Steenhuisen het gesê Suid-Afrikaners sal vanjaar veg om die Suid-Afrikaanse droom te red deur van hul kragtigste wapen gebruik te maak, naamlik hul stem.

“In 2024 sal die mense van Suid-Afrika stem om diegene aanspreeklik te hou wat Suid-Afrika van die belofte van 1994 weggelei het deur hul korrupsie, hul hebsug en hul onbevoegdheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Martie Smartie ·

En Tintswalo kry darem lekker SASSA toelae, so sy stem weer ANC

Raadsman ·

Ek moet Ramaphosa krediet gee vir een ding en dit is dat hy ontslae geraak het van Busisiswe.

Wondermaarnet ·

En hopelik gaan Tintswalo en haar mede ANC stemmers nie weer vir die ANC stem nie. Wat is nog nodig om hul oë oop te maak?

Witwax ·

Mense, daai persoon wat hom self president noem
is nie gepla oor enige iemand wat kla nie.
Hy voel vere, hy kry sy president salaris en voordele, as hy moet uitval gaan hy agteroor sit en lekker lewe want hy het alreeds miljoene in die bank en onder die bank.

SjN ·

PW Botha se stellings en voorspellings oor die anc en kodesa vroeer jare het toe presies so gebeur. Die klomp kaders het geen skaamte nie.

JACF ·

Alle kritiek teenoor die wyse waarop die ANC regeer is geregverdig.
Weet egter verseker, die kieser was gewaarsku om NEE te stem. Om die soort van vergrype te verhoed.
Uitslag is geskiedenis, nou is almal ontevrede met verloop van sake!
Los die ANC dat hul voortgaan met regeer.
Ons is tevrede dat hul ons nog nie weggejaag het nie.
Om te gaan stem Om hul te lig, mag dalk verdoemend wees.

minnie muis ·

afrika bewys vir wereld dat sekere groepe nie by magte is om te regeer nie

Lettie ·

Die afgelope 30 jaar was/is ‘n storie wat ZA tot niks laat verval het. So hartseer dat ‘n ryk en skoon land sedert 1994 tot rommelstatus verval het. Armste land ooit.

Papsak ·

Ja so hartseer dat n eens goeie land ryk aan alles so plat gevee is en daarvoor bedank ons die anc so staan vir hulle ek staan nie vir hulle nie kyk hoe lyk alles vergaan lelik en horror fliek speel af in SA !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.