Stapper 17 uur lank in rotsskeur vasgekeer

Die man was 17 uur lank ’n rotsskeur in die Cederberg vasgekeer. (Foto: WSAR)

’n Stapper was vandeesweek vir sowat 17 uur lank in ’n rotsskeur in die Cederberg vasgekeer nadat hy en ’n medestapper die pad byster geraak het. Die stapper kon skaars asemhaal in die nou rotsskeur voordat hulp uiteindelik opgedaag het.

Volgens Wildernis-soek-en-redding (WSAR) in die Wes-Kaap het die twee mans Dinsdag die pad byster geraak terwyl hulle naby die plaas Nuwerust in die Cederberg gestap het. Die mans het hul teen laatmiddag op ’n bergpiek bevind en besluit om by wyse van ’n reeks smal “skoorstene” – ’n bergklimterm wat gebruik word om smal skeure of krake te beskryf – na onder te klim.

Een van die stappers het egter in ’n rotsskeur vasgesit en kon  nie self daaruit kom nie.

Ná ’n slapelose nag op die berg het die twee stappers verbygaande rotsklimmers opgemerk wat toe die nooddienste ontbied het.

’n Span van die WSAR is met ’n helikopter na die afgeleë bergpiek gevlieg en moes tot by die stappers abseil. Die span het die vasgekeerde stapper ondersoek voordat hulle ’n tegniese toustelsel opgestel het waarmee die man eindelik bevry is.

“Die man kon net op sy tone aan die onderkant van die skeur staan en sy bors is in so ʼn mate vasgedruk dat hy net klein asemteue kon gee,” vertel een van die reddingswerkers.

Die twee stappers is ná die reddingspoging na ’n nabygeleë landingsone gevlieg waar hulle in die sorg van ’n wagtende mediese span oorhandig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.