Statebondspele: Nog medaljes vir Suid-Afrika

Zenéy van der Walt het ’n brons medalje in die 400 m-hekkies vir vroue behaal. (Foto: Ben Stansall / AFP)

Daar was Saterdag ʼn hele paar gevalle van so naby, maar steeds te ver vir ʼn paar Suid-Afrikaners op die Statebondspele in Birmingham.

Met nog net twee dae (Sondag en Maandag) oor, sal die span diep moet delf om op sy medaljeoes te verbeter.

Die span het Saterdag in Birmingham nietemin nog vier medaljes by sy totaal gevoeg om dit tot 26 (7 goud, 8 silwer en 11 brons) te laat toeneem, maar dit is heelwat minder as die 37 medaljes wat die span op die vorige Spele in die Goudkus in Australië verower het.

Boonop het Suid-Afrika tot agtste op die medaljetabel afgeskuif nadat hy deur Nigerië en Skotland ingehaal en verbygesteek is.

Australië met 154 medaljes, (58 goud, 46 silwer en 50 brons) loop steeds voor, met Engeland (146) tweede, gevolg deur Kanada (84, 22 goud), Nieu-Seeland (44, 17 goud), Indië (40, 13 goud), Nigerië (30, 9 goud) en Skotland (41, 8 goud), wat die eerste sewe posisies vul en met Suid-Afrika agtste.

Suid-Afrika se medaljes is Saterdag deur Zenéy van der Walt (brons in 400 m-hekkies vir vroue), die stoeier Steyn de Lange (silwer) en Simnikiwe Bongco en Philokuhle Mnguni (brons) in die bokskryt verower.

Daar is Sondag 45 medaljes op die spel, die meeste wat op een dag gewen kan word, en hopelik sal die spanlede in die oorblywende items hul koppe hoog kan lig.

Só het die span Saterdag in die onderskeie sportsoorte gevaar: 

Atletiek: 400 m-hekkies vir vroue: Zenéy van der Walt eindig derde (brons) met ʼn persoonlike beste tyd van 54.47 en weerhou Jamaika daarvan om skoonskip te maak. Hamergooi (mans): Tshepang Makhethe eindig sewende met ʼn afstand van 58.76 m. Allan Cumming eindig 13de (63.13 m) en die goue medalje behoort aan Nick Miller van Engeland (76.43). 1 500 m-eindronde: Ryan Mphahlele eindig 11de in 3:34.66, wat sy beste tyd is.

Boks: Middelgewig, halfeindronde: Simnikiwe Bongco verloor teen Callum Peter (Australië), maar wen steeds brons. Veergewig (vroue): Philokuhle Mnguni verloor met 5-0 teen Michaela Walsh (Noord-Ierland), maar wen steeds brons. 

Hokkie: Suid-Afrika se manspan verloor met 2-3 teen Indië in die halfeindronde. Die span speel Maandag teen Engeland uit om die bronsmedalje.

Stoei: Jajoko Tanki Tau verloor met 0-10 teen Ebikewenimo Welson (Nigerië), Jajoko Tanki Tau verloor met 12-2 teen Darte Capellan (Kanada), Arno van Zijl klop Curtis Dodge (Wallis) met 10-0 in 1 minuut en 47 sekondes, maar verloor teen Charlie Bowling (Engeland) met 1-3 op punte; Nicolaas de Lange klop Thomas Barns (Australië)  met 10-0 in 32 sekondes, asook Maulalo Alofipo (Samoa) in 46 sekondes. Steyn de Lange wen die silwermedalje in die 97 kg-eindronde met 9-3 teen Nishan Randhawa (Kanada).

Tafeltennis: laaste ronde van 16 (vroue): Lailaa Edwards en Musfiguh Kalam verloor met 0-3 teen Fatima Bello en Offiong Edem.­

Bron: Saskok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.