Steeds hoop vir swak SA opvoeding, sê EMU-direkteur

skool

Argieffoto.

Hoewel Suid-Afrikaanse skole ’n groot agterstand het, is daar steeds baie hoop, het dr. Muavia Gallie tydens die ATKV se eerste onderwyskonferensie vroeër vandeesweek in Randburg in Johannesburg gesê.

Dié geleentheid was ’n trekpleister vir onderwysers, skoolhoofde en beheerliggame van oor die hele land om te gesels oor die huidige stand van Suid-Afrikaanse skole.

Dr. Gallie, besturende direkteur van Education Moving Up (EMU) en direkteur van School Turnaround Foundation, het gesê SA skole het ’n groot agterstand.

“Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se wêreldwye mededingendheidsverslag het in 2015 vir die tweede jaar agtereenvolgend gesê Suid-Afrika se onderrig in wiskunde en wetenskap is die swakste ter wêreld. Boonop het Suid-Afrika die 138ste plek uit 140 lande behaal in die kategorie vir die gehalte van die algehele onderwysstelsel.”

Hy het ook verwys na verskeie internasionale studies wat bewys het dat Suid-Afrika se opvoeding nie is wat dit moet wees nie. “Ons weet reeds ingrypende verandering is nodig. Die vraag is wat die verandering moet behels.”

Gallie het verduidelik daar is 199 skooldae per jaar en die kurrikulum is ontwerp vir 170 dae onderrig in graad 7. Hy sê egter die gemiddelde leerder in dié graad word net 82 dae onderrig.

Hy het gesê daar is steeds baie hoop, en die eerste stap in die proses is bewusmaking. “Selfs onderwysers weet nie hoe erg die probleem regtig is nie. Dié wat weet, ignoreer dit dikwels of wys die vinger na iemand anders. Die opvoeding van ’n kind is nie een mens se verantwoordelikheid nie, maar ʼn groepspoging.”

“Ons almal, waaronder die regering, beheerliggame, skoolhoofde, onderwysers en ouers, moet almal verantwoordelikheid aanvaar. Dis nie die kind wat swak presteer se skuld nie, maar elke betrokke volwassene se skuld. Die verandering moet by ons begin, en dit kan net gebeur as ons verantwoordbaar word. Hou op om al die skuld op die stelsel te pak.”

Verandering moet op die algehele skoolstelsel gemik word, en nie op individuele skole nie. “In die 2003 Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) het Suid-Afrika die swakste gevaar. Lande soos Botswana, Kenia, Swaziland en Zimbabwe het beter gevaar. Suid-Afrika se beste presteerders het slegter gevaar as die swakste presteerders in Singapoer, die land wat die beste gevaar het. Suid-Afrika het daarna aan die studie onttrek, en Uganda het nou die laaste plek ingeneem.”

Geld is ook nie die probleem nie. “Suid-Afrika bestee ongeveer VSA$1,225 per leerder, terwyl Zimbabwe net VSA$100 per leerder uitgee – en hulle vaar beter. Ons metodologie is die probleem. Ons liberale onderwysstelsel is vir middelklasgesinne ontwerp, terwyl die meeste van Suid-Afrika se kinders arm en gemarginaliseer is. Dis ontwerp vir ’n kind wat in ’n kleuterskool was voordat hy graad 1 toe gaan, terwyl die meeste kinders nie daardie voorreg het nie. Hulle begin almal met ’n agterstand, en dis nie hulle skuld nie, maar die stelsel s’n.”

Verder eindig moedertaalonderrig dikwels in graad 4 en dan word Engels verder gebruik. “Moedertaalonderrig is noodsaaklik. Wys vir my die universiteitstudent wat ʼn graad 7-wiskundevraestel in Russies sal kan slaag.”

Mnr. Japie Gouws, die ATKV se besturende direkteur, sê veeltalige onderwys is ʼn ander belangrike elemente om SA onderrig reg te ruk. “Veeltalige onderwys is ʼn belangrike stap in die regte rigting. Volgens die ATKV se mening moet elke kind minstens drie tale op skool kan leer: ʼn moedertaal, ʼn streekstaal en ʼn internasionale taal. Miskien lê die antwoord tot nasiebou in goeie opvoeding en in meertaligheid.”

Met die huidige skoolstelsel word leerders se sukses in Suid-Afrika nie bepaal deur die kind se vermoëns nie, maar deur die skool waarin hy beland en sy skoolloopbaan eindig. “Slegs 20 uit elke 100 leerders wat graad een begin het, behaal matriek. Net vier van daardie 20 gaan universiteit toe, en net een voltooi ʼn graad,” het Gallie gesê.

Gallie sê ouers moet betrokke wees en kinders help met skoolwerk en beheerliggame, skoolhoofde, departementshoofde en onderwysers moet almal verantwoordelikheid aanvaar om verandering teweeg te bring.

“Dit begin by jóú. Deur verantwoordbaar te wees, bemagtig jy jouself en so ook die mense om jou, en uiteindelik ons land se leerders. Ons almal moet die probleem in eie hande neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Bouwe van der Eems ·

Daar is konsensus dat onderwys in SA van die slegstes in die wereld is. Gestel ouers met kinders van skoolgaande ouderdom sou verantwoordelikheid aanvaar vir opvoeding van hulle kinders, soos dr. Gallie voorstel. Die enigste verantwoordelike besluit wat sulke ouers sal kan maak is hulle kinders uit die skoolstelsel te verwyder, en opsies soos tuisonderwys te gebruik. Dan bly slegs die kinders oor in die skoolstelsel wie se ouers nie verantwoordelikheid aanvaar nie, en die skoolstelsel gaan nog meer agteruit. Dr. Gallie se voorstel is edel, maar is ongelukkig nie prakties uitvoerbaar nie.

Michael ·

Daar is nog goeie skole in SA Afies,Grey,Paul Roos,Paarl gim ens net nie bekostigbaar vir almal nie maar top klas akademiese standaarde met top onderwysers die regering moet hulle net uitlos.

Bouwe van der Eems ·

Daardie skole mag dalk goeie akademiese standaarde handhaaf. Dis te bevraagteken of hulle bekostigbaar is is. Hulle is egter nie baie toeganklik nie, want hulle het baie lang waglyste.

Michael ·

En dan moet ek sê hierdie skole word met ….DISSIPLINE. …..beheer

ou tannie ·

Daar is nog baie goeie skole in SA. Die regering ht egter geen idee wat aangaan in townshipskole nie. Veral op die platteland. Die grootste probleem is dat die kinders n BAIE beperkte begrip het van Engels. n Matriek leerling sal bv. Vra wat dehydration is. Vrae in vraestelle word glad nie verstaan nie en kan dus nie beantwoord word nie. My skoolhoof is gewoonlik 3 dae per week by die skool. Hy is nooit in sy klas nie en geen onderhoud word gedoen nie. Die toilette se vloere lyk soos drywende mishope. Die hele township staan vol oranje plastiek skoolstoele. Dit help glad nie om klagtes te le nie. Daar word niks aan gedoen nie. Dit lyk vir my of die opvatting in Afrika is dat as jy die baas is, word daar glad nie van jou verwag om die voorbeeld te stel nie. Jy word ook nie aanspreeklik gehou nie. Al wat jy hoef te doen is om die blaam op iemand anders te pak.

Wat-ek-lees ·

Ek kyk hier na “Die laaste O2-klas 1934” se klasfoto van die PU vir CHO . Almal van hulle onderwysers in die ware sin van die woord. Sluit ook in ‘n bekende administrateur van Transvaal en my vader. Dan is ek ook in besit van die ‘Autographs’ van Lenie Bosman (1896-1933) van die Heidelbergse Onderwyskollege. ‘Autograph’ menende wat jy opdra in jou eie handskrif aan ‘n persoon. In hierdie geval aan Lenie Bosman.
Lees jy hierdie ‘Autograph’ en kyk na die foto van 1934 dan sien jy onderwysers met integriteit.
Dis hulle wat ‘n fondasie gelê het vir mense wat uitermate goed presteer het na skoolopleiding.
Wat egter goed is is dat nie een van hulle met ons is om die gemors te aanskou waarin vandag se onderwys is.

Sarie Foot ·

Om te se dat kinders geen skuld dra nie , is vir my n onverantwoordelike stelling. Ons voed juis kinders op om algaande al hoe meer verantwoordelikheid vir hul eie lewens te neem sodat hul as verantwoordelike volwassenes n sinvolle bydra tot die samelewing kan lewer. As alles dus in plek is om hul onderrig suksesvol te maak en hul steeds nie hul kant bring nie , kan die volwassenes in daardie kind se lewe nie blameer word nie. Ek het die afgelope tyd gratis wiskundeklasse na skool aangebied vir die kinders wat sukkel. Die ouers het die toestemmingsbriefies geteken, maar slegs 4 van die 14 kinders wat moes kom, het opgedaag. Verlede jaar het ek n oop uitnodiging gehad dat enige kind wat met iets sukkel, na skool kon kom. Eienaardig genoeg was dit oor die algemeen die intelligente kinders, wat net iets oor n som wou kom uitvind. Hierdie jaar het ek n klompie kinders wat regtig probleme het en het daarom besluit om spesifiek hierdie kinders te nooi vir ekstra klasse. Is dit dan nog steeds die volwassenes se skuld as hierdie kinders nie hul geleenthede benut nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.