Stellenbosch wil eienaars van onwettige strukture vasvat

Lugfoto van Stellenbosch Foto: Andres de Wet via Wikimedia Commons

Lugfoto van Stellenbosch Foto: Andres de Wet via Wikimedia Commons

Inwoners van Stellenbosch wat onwettig strukture op hul eiendomme oprig, of wat bestaande strukture gebruik vir ander doeleindes as waarvoor die Munisipaliteit goedkeuring gegee het, kan moontlik vervolg word of hul strukture kan afgebreek word.

Hulle loop ook die risiko dat versekeringseise verwerp word sou die struktuur op een of ander manier beskadig word.

Dít is die waarskuwing van Dupré Lombaard, direkteur: beplanning en ekonomiese ontwikkeling by die Munisipaliteit Stellenbosch. Die munisipaliteit het in Maart vanjaar ʼn omvattende veldtog van stapel gestuur waardeur opgetree word teen restaurant- en plaaseienaars asook eienaars van private wonings wat akkommodasie aan studente verhuur.

Volgens raadslid Johannie Serdyn, wat belas is met beplanning en omgewing, is 14 sake reeds sedert Maart aan die prokureurs oorhandig.

Na raming is daar ongeveer 1 000 eiendomme in die munisipale gebied waar strukture sonder goedgekeurde bouplanne opgerig of die gebruik van die strukture verander het sonder die nodige grondgebruik-goedkeuring.

“Die munisipaliteit is bewus van hierdie onwettige strukture en gebruik daarvan in die plattelandse gebiede – veral op plase wat vir landbougebruik gesoneer is,” verduidelik Lombaard. “In die dorpsgebied word talle strukture wat as enkelgebruik gesoneer is, onwettig as studenteverblyf gebruik.”

Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch sê: “In Stellenbosch, die Innoveringshoofstad van die land, strewe ons daarna om ons inwoners veilig te hou en van ʼn menswaardige bestaan te verseker.” Volgens Sidego word die risiko van moontlike tragedie verminder indien daar teen onwettige bedrywighede opgetree word. “Ons moet ten alle tye die groot behoefte aan behuising in ag neem,” het hy gesê. “Daar is ook altyd iemand wat geldelik ʼn situasie sal benut. ʼn Mens het begrip vir die entrepreneurskap wat in die proses getoon word, maar as munisipaliteit is ons verplig om orde te handhaaf. Ons kan nie onwettige bouwerk en strukture laat voortgaan nie – want dit kan maklik op wanorde afstuur.”

Die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde (1977, Wet 103 van 1977 (NBR) omskryf geboue en strukture en die vereistes vir die oprigting daarvan.

“Grondeienaars redeneer dikwels dat plase en eiendom buite stedelike gebiede uitgesluit is van die vereiste om bouplanne voor te lê. Maar sedert die implementering van die NBR was geen gebou uitgesluit van hierdie vereiste nie – behalwe in informele nedersettings waar spesifieke uitsluiting geld,” het Sidego bygevoeg.

Die Stellenbosch Munisipaliteit wil graag grondeienaars bystaan en help om die gebruik van hul grond te reguleer en om die nodige goedkeurings en magtigings wat betref die relevante statutêre vereistes te verkry.

“Ten einde die risiko’s vir grondeienaars en die probleme wat kopers dalk mag teëkom te verminder, het die Munisipaliteit in Maart begin met ʼn projek om onwettige strukture te ondersoek en daarteen op te tree,” het Lombaard verduidelik. “Hierdie optrede is omvattend en sluit in plaas-, restaurant- en huiseienaars wat kamers aan studente verhuur. Sommige plaaseienaars wat toestemming het om gastehuise te bedryf, verhuur die kamers op die langtermyn. Ons moedig toerisme in Stellenbosch aan, want dit bevorder die ekonomie en dra by tot werkskepping. Wanneer eenhede wat vir besoekers aan die gebied bedoel is, egter aan langtermynhuurders verhuur word, dra dit baie min by tot werkverskaffing of die stimulasie van die ekonomie.”

Volgens hom tree die munisipaliteit ook op teen sake-eienaars wat onwettig strukture opgerig het wat as restaurante gebruik word en hulle ondersoek private wonings waar ʼn aantal kamers aan studente verhuur word. “Dit is ʼn oortreding van die Stellenbosch soneringskema wat bepaal dat net twee mense wat nie familie is nie, in die private sektor gehuisves mag word,” het hy gesê.

Volgens Lombaard maak die munisipaliteit gebruik van lugfoto’s en GPS data om te bepaal of strukture nuut-opgerig is. Inspekteurs besoek ook die persele.

Lombaard beklemtoon die munisipaliteit is gretig om inwoners te help om wettige kanale te volg. “As jy reeds ʼn struktuur het wat dalk onwettig mag wees, praat met ons. Ons sal jou raad gee oor hoe om te werk te gaan om wettige toestemming vir die oprigting te verkry,” het hy gesê.

  • Die wet definieer ʼn gebou as “enige ander struktuur, hetsy van ʼn tydelike of permanente aard en ongeag die materiaal wat by die oprigting daarvan gebruik is, wat opgerig is, of gebruik word vir, of verband hou met die akkommodasie of gerief van mense of diere; enige muur of deel van ’n gebou swempoel of swembad, reservoir ens.” Dit beteken geboue of strukture wat sonder goedgekeurde bouplanne opgerig word, is in konflik is met die vereistes van die NBR, LUPO en die relevante soneringskemas.
  • Die Grondbeplanningsordonnansie (Ordonnansie 15 van 1985) en die regulasies, bevat vereistes oor die onwettige gebruik van grond en die regstelling daarvan. Die soneringskemas wat op die Stellenbosch Munisipaliteit betrekking het, bevat verdere beperkinge en vereistes waarvolgens grondeienaars grond mag of nie mag gebruik nie.
  • Die Verbruikerswet van 2009 (Wet 68 van 2009) plaas sekere verpligtinge op verkopers wat hul eiendomme verkoop met die wete van defekte – dit sluit in geboue wat onwettig opgerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

peet ·

Dis goed so, solank hulle alle onwettige strukture ondersoek en laat afbreek, selfs die waar elektriese toevoer kabels deur n gat in die sink verskaf is . Asook al die wat so langs alle snelwee opskiet.

Gerhard ·

Op Tv nuus sien ons die bittere smarte van mense wat alles verloor het in n brand wat deur n informele nedersetting gewoed het. Mense se enigste besittingtjies word weggespoel in vloede, soms verloor mens hulle lewens. Waarom? Want wrede munisipaliteite gee niks om vir plakkers se lewens nie. Indien hulle wel omgegee het sou bouregulasies wat vir almal geld ook op informele nedersettings van toepassing gemaak word. Dan sou niemand in vloedgebiede bou nie en brande makliker bestry kon word. Maar die wat gedwing word om te hou by die bouregulasies, is ook die wat op die ou end vir die munisisipaliteite se gelag moet betaal. Want munisipaliteite is bang hulle word met klippe of met riool bestook.

Elfie ·

Gerard, dink mooi wat jy skryf ou. Hierdie is hoofsaaklik studenteverblyf. mense maak geld uit ander en betaal dus nie die belastings ens nie. Verder kan sulke sturkture lewensgevaarlik wees want dis nie volgens bouplanne ens opgerig nie. Wette en reels geld vir almal. As mens begin toegee vir elke ding, kan jy dink die chaos waarin dit die land gaan dompel? Mense kla gou as daar wetteloosheid en misdaad plaasvind maar dan wil hulle die tipe ding wel toelaat. Dit werk nie so in beskaafde lande nie en êrens moet reels begin toegepas word!

Uys ·

Ek is in die sukkelende toerisme befry. Wat snaaks is as Zuma sy bek oop maak val toerisme, dis hoekom daar nie meer toeriste kom nie en ook waarom Gastehuise kamers op die langtermyn uitverhuur. Hoe anders kry hul dan ń inkomste?

Uys ·

Ons het nie eers in 2011 so min toeriste as nou 2015 in die land gehad nie. Al toeris wat di land istroom is van China afkomstig omdat die ANC hand op die blaas met China is. Dis hoekom toerisme in die studente dorp afgeneem het.
Ook die rede dat gastehuise kamers uithuur vir studente.

nig ·

Uys, niemand het iets teen WETTIGE geboude kamers wat vir toerisme en/of studente te huur is nie, maar daar moet kontrole wees. Kan jy dink as elkeen net aanneuk en ‘n gebou val op iemand omdat dit nie volgens spec gebou is of iemand raak doodgeskok omdat dit sommer so-so tipe elektrisiteitsvoorsiening in so plek is – dan gaan almal hande in die lug gooi oor onwettige strukture.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.