Ster-Kinekor binnekort oop, inryteaters word oorweeg

(Foto: Kilyan Sockalingum/Unsplash.)

Ryan Williams, uitvoerende hoof van Ster-Kinekor, het in ʼn onderhoud op CapeTalk gesê dat dié teatergroep binnekort weer oopmaak en moontlikhede ondersoek om enkele inryteaters op te rig.

“Die grootste uitdaging is om toegang tot inhoud te kry,” sê Williams. Hy verduidelik dat buitelugvertonings ʼn hoë risiko is omdat kykers maklik roofkopieë kan vervaardig. “Ons het reeds die nodige navorsing gedoen en hoop om binnekort een of twee inryteaters oop te maak.” Daar is egter nog geen duidelikheid oor waar en wanneer die plan verwesenlik gaan word nie.

In Kaapstad is twee groot inryteater-inisiatiewe se planne om oop te maak egter deur regeringsregulasies in die wiele gery.

Cape{town}ect berig dat die Mother City Drive-in en Galileo Opelugteater op kort kennisgewing hul vertonings moes kanselleer omdat dit as sosiale geleenthede, eerder as fliekteaters, beskou word.

Mother City Drive-In het ʼn petisie van stapel gestuur waarin hulle pleit dat inryteaters toegelaat word om vertonings aan te bied. Galileo Opelugteater het ook hul misnoeë op sosialemediaplatforms uitgespreek oor die wyse waarop sekere wetgewings toegepas word.

Ster-Kinekor het intussen ʼn verklaring uitgereik met reëls en regulasies vir wanneer fliekgangers binnekort terugkeer. Hoewel die moontlikheid aan inryteaters nog nie bevestig is nie, is die teatergroep gereed om hul deure vir fliekvlooie oop te maak.

“Mense kan verwag dat dit ʼn ander ervaring gaan wees as waaraan hulle gewoond is,” sê Williams. Fliekgangers moet ten alle tye hul maskers dra, temperatuur word by aankoms geneem, handreiniger word beskikbaar gestel vir gebruik en kaartjies is nét aanlyn beskikbaar.

“Om kontak te beperk, sal geen aankope op die perseel plaasvind nie,” verduidelik Lynne Wylie, bemarkingsbestuurder van Ster-Kinekor. “Alle kaartjies en versnaperinge moet op die Ster-Kinekor-app of -webwerf gekoop word.”

Sosiale afstand sal deur middel van vloermerkers gereguleer en gehandhaaf word. ʼn Maksimum van 50 mense, uitsluitend personeel, word in teaters toegelaat en fliekgangers mag hul maskers tydens die vertoning afhaal.

(Foto: The Galileo Open Air Cinema/Facebook)

“Die veiligheid van ons gaste en personeel is ʼn hoë prioriteit, daarom word ekstra higiënemaatreëls ingestel,” bevestig Wylie.

Personeel volg streng skoonmaakprosedures wat spesifiek fokus op gebiede wat deur die publiek gebruik word. Dit sluit in deurhandvatsels, relings, badkamergeriewe en sitplekke.

“Alle personeel word voor en ná elke skof getoets. Hulle sal ook maskers en handskoene dra waar nodig,” sê sy.

Wylie verklap dat daar opwindende kykgenot vir fliekgangers voorlê. Hulle beplan om van Augustus af die flieks te laat rol en hoop dat kykers dit ook sal geniet.

Luister hier na die volledige onderhoud met Ryan Williams, uitvoerende hoof van Ster-Kinekor, wat op CapeTalk uitgesaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

katerinadiekat ·

So basies kan mens nou deesdae weer alles doen behalwe om sigarette wettiglik te koop?

JohanR ·

Luister na ons President katerinadiekat. Hy het gese dat sigarette is nie vir altyd verban. Hoekom vloek jy nou soe sleg katerinadiekat…..dis ons President daai!

Anoniem ·

Indien ek met my familie/vriende veilig sou wees by inry/opelug teaters sal wees, sal ek graag gaan.

Leon ·

In pretoria is die inryteaters al dekades lank toe. Daar is nou luukse huise daar gebou. Menlyn se inryteater het nie gewerk nie en moes ook toemaak want die mense het dit nie ondersteun nie. Jy moes te veel betaal om uit die parkeergarage te kom.

Marisa W ·

inryteaters is dikwels op die dakke van parkeergarages gehou en jy moet betaal om die parkeergarage te verlaat – hier in die kaap was ook ‘n paar

Adam Adriaan ·

Daar is niks nuut onder die son. Wie kon dink dar inry teaters weer terug sal kom? Nou kan die jong klomp weer lekker vry in die inrye!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.