‘SterStatus’-wenner slaggereed om eie drome te bewaarheid

Nidette Nortjé, wenner van die vyfde seisoen van ‘SterStatus’. (Foto: Marilize Coetzee)

Sonder die ondersteuning van haar familie, kêrel en mededeelnemers sou sy nooit die moed gehad het om deur te druk tot die kroningsgeleentheid van die SterStatus-kompetisie nie.

Só sê Nidette Nortjé, die blondekop-skoonheid van Montana, Pretoria, wat verlede week as die vyfde algehele wenner van dié kompetisie by die Safari Hotel and Convention Center in Rustenburg aangewys is.

SterStatus skep ʼn platform vir vroue van alle ouderdomme en agtergronde om hulself te bemagtig, stories te vertel, hul vaardighede te slyp en ontwikkel, asook hul verhouding met die Here te versterk.

Vivian Swanepoel en Madelein Snyman is onderskeidelik as eerste en tweede prinsesse aangewys.

Naomi Amanda van der Merwe is as die liefdadigheids- en debutantwenner aangewys. Charlotte van Wyk en Samantha Thompson is onderskeidelik as eerste en tweede prinsesse in die liefdadigheidskategorie aangewys.

“Die Here het by my gestaan en saam met my die pad gestap. Hy het my die krag en kennis gegee om deur te druk,” sê Nidette aan Maroela Media.

“Elkeen van ons het ingeskryf om te wen, maar ons het werklik mekaar so opgebou en opgehelp as daar gestruikel is. Daar was dae wat ons in sak en as was, maar ons het mekaar ondersteun om telkens weer te probeer.”

Nidette sê sy het ʼn wonderlike gesin wat haar ook aangemoedig het om aan die kompetisie deel te neem. Sy is ook die mamma van ʼn woelige driejarige peuterseuntjie.

“My ouers en my broer staan my hele lewe lank agter my en ondersteun my ten volle in alles wat ek aanpak. Op die dae wat ek wou tou opgooi, het hulle my gemotiveer en was deurgaans betrokke by die proses.”

Nidette Nortjé en Naomi Amanda van der Merwe. (Foto: Marilize Coetzee)

Nidette (24) is in Pretoria gebore en getoë en het aan die Hoërskool Montana gematrikuleer. Sy is tans werksaam in die motorbedryf, maar beplan om vanaf Januarie haar passie vir aanbieding en toneelspel te volg.

Sy beplan ook om hande te vat met ʼn hele rits bekende skoonheid- en leefstylhandelsmerke en is reeds model vir onder meer die klerehandelsmerk Lee Cooper.

“Ek voorspel dat die jaar net ál besiger gaan raak, en ek sien baie uit daarna.”

Om net op haarself aangewese te wees tydens die verloop van die kompetisie was vir Nidette die grootste uitdaging. Die belangrikste les wat sy egter geleer het, is om haar selfvertroue te versterk en vaardighede te ontwikkel wat haar bemagtig om haar drome te volg.

“Ek wou nou nog altyd ʼn aanbieder wees, en SterStatus is daardie voet in die deur vir my. Die wenner bied natuurlik die volgende kompetisie aan, wat gerig is op opleiding in drama, aanbieding en rolverdeling.”

Haar droom-aanbiedingswerk sal wees om as reisende veldaanbieder op Kwêla of ʼn soortgelyke leefstylprogram op te tree.

“Ek het deur die kompetisie ʼn groot deel van myself leer ken. ʼn Mens besef nie hoe min vertroue jy eintlik in jouself het en hoeveel dit vat om jou kop op iets te sit en dit net te doen nie. Ek wou graag presteer, en ek is dankbaar ek kon dit deurvoer.”

Die volledige vyfde seisoen van SterStatus is op YouTube beskikbaar. Inskrywings vir die sesde seisoen sal op 1 Desember open. Inskrywingsvorms is hier beskikbaar.

Nidette droom daarvan om ‘n aanbieder en model te wees. (Foto: Marilize Coetzee)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.