‘Stoot plat,’ sê Kaapstad se burgemeester oor Suikerbossie-heuwel

Die fietsren kronkel deur ‘n prentjiemooi landskap, maar Suikerbossie-heuwel kan ‘n fietsryer se spoed darem lelik breek. (Argieffoto: Cape Town Cycle Tour/X)

Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het “aangekondig” dat Suikerbossie-heuwel in die Moederstad summier platgestoot gaan word.

Nie net gaan dit groot verligting bring aan motoriste wat ʼn halwe tenk brandstof moet gebruik om die allemintige heuwel baas te raak nie, dit gaan ook ʼn “historiese verbetering” aan die landskap van Kaapstad beteken, het die burgemeester tong in die kies van hom laat hoor.

Hill-Lewis, wat vroeër sy eerste volledige Kaapstad-fietstoer (weliswaar op ʼn e-fiets) aangedurf het, sê hy het tydens dié fietsren voor die “absolute afgryse en marteling” wat Suikerbossie-heuwel is, te staan gekom.

“Sowat ʼn kwartpad op met Suikerbossie het ek die vermoë verloor om te praat. Halfpad boontoe het die wil om te leef my verlaat. Driekwart op was ek in ʼn toestand van geweldige lyding. En toe het ek ʼn openbaring gehad: hoekom moet die heuwel in elk geval hier wees?

“Ek weet nie wie Suikerbossie-heuwel hier neergesit het of wat hulle gedink het nie, maar ons gaan hierdie reusefout nou regstel,” het die burgemeester in ʼn verklaring – baie duidelik op 1 April, wat ook as Gekkedag bekend staan – gesê.

“Om die waarheid te sê is ek verbaas dat iemand nog nie vroeër hieraan gedink het nie.”

Die burgemeesterskantoor het laat hoor dat Kaapstad se fietsrygemeenskap, en veral diegene in die Republiek van Houtbaai (waar inwoners nou al veels te lank in die skadu van Suikerbossie-heuwel moes ly), die aankondiging verwelkom.

Die planne hiervoor sal binnekort bekend gemaak word – en bouwerk sal waarskynlik net betyds afgehandel wees om volgende jaar se fietstoer veel meer plesierig te maak.

En steeds was dit het einde niet. “Die wedren was al sowat drie weke gelede en daar is nog steeds ʼn paar fietsryers wat probeer om Suikerbossie-heuwel baas te raak,” het David Bellairs, wedrendirekteur, van hom laat hoor.

“Hulle is nou nog daar en ons gaan kyk een keer per dag of hulle nog oukei is. Die aankondiging gaan ʼn positiewe verskil maak. Ons verwag dat duisende meer fietsryers voortaan gaan aanmeld. Wat ʼn blink plan!”

Die burgemeester is ook nie ʼn man wat mors nie en sê die sand en gruis wat by Suikerbossie verwyder word, sal goed gebruik word.

“Ons gaan dit aan Johannesburg skenk sodat hulle hul slaggate kan opvul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lourens ·

Lekker 1 April. Jare terug met my enigste Argus ren geen probleem gehad met Suikerbossie nie. Daar is so baie ondersteuning teen daai bult uit jy voel soos ‘n Pro!

JohanR ·

Dis nie ‘n Heuwels Fantasties daai nie maar in my 12 Argus’se het ek hom bietjie gery, bietjie gehardloop en baie geloop, maar as jy daar by Llandudno daai afdrand vang dan sing jy en jou fiets….

Karina ·

Wel gedaan aan Kaapstad se Burgermeester – Mnr jy het die mense se harte en polse die hemele ingejaag want hulle was baie ontsteld. Ek het my maag seer gelag. Seker een van die beste “April fool’s jokes” wat ek nog gehoor het. En toe jy sê dat die sand en gruis wat verwyder word aan Johannesburg geskenk gaan word om hul slaggate op te vul, toe lag ek dat die trane loop. Stuur net bietjie PE se kant toe as hulle op pad is Jhb toe asb met daardie sand en gruis. Dankie jy het my dag gemaak.

Martie ·

Nogal met ‘n e-fiets. Ag nee Gordon jy is hopeloos te jonk vir so iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.