Stormers rook die pyp in Kaapstad

Angelo Davids druk een van die Stormers-drieë. (Foto: Hansie Linde)

Uitstekende verdediging en ʼn tikkie Manie Libbok-toorkuns het toegesien dat die Stormers vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) gekwalifiseer het.

Die Kapenaars het ses drieë gedruk om Connacht met 43 – 25 op die DHL-stadion te laat les opsê. En dit was omtrent vir jou ʼn spesiale vertoning.

Hoewel die besoekers die gebiedsvoordeel- en balbesitstatistieke oorheers het, het Mac Hansen en kie hulself teen ʼn muur van Stormers-verdedigers vasgeloop.

Daarteenoor het Libbok – ná ʼn senuweeagtige aanloop tot die wedstryd – skielik vlam gevat en die Iere met sy dartellopies en vindingryke spel onder druk geplaas.

Die losskakel het binne ʼn japtrap twee drieë gedruk en Jacques Nienaber kan maar gerus sy naam in ʼn voorlopige Springbok-groep neerpen.

Wanneer die 25-jarige Humansdorp-boorling met selfvertroue speel is hy so te sê onstuitbaar op die rugbyveld.

Tog het Connacht ʼn reputasie dat sy spelers nooit gaan lê nie en toe Connor Oliver net voor rustyd oor die doellyn val, was hulle weer terug in die wedstryd.

Die Stormers het vir Connacht met 43 – 25 in die VRK-halfeindstryd geklop. (Foto: Hansie Linde)

Benewens Oliver se poging het Hansen, Shamus Hurley-Langton en Byron Ralston ook drieë vir die besoekers gedruk.

Tog is die Kaap vandag beslis weer Hollands.

Die tuisspan se verdediging het weliswaar die grondslag vir hul oorwinning gelê, maar hulle het terselfdertyd ook gewys waartoe hulle in staat is met die bal in die hand.

Die uitstekende wisselwerking tussen Hacjivah Dayimani en Ruhan Nel – toe die losvoorspeler soos ʼn wafferse mengeldrankiespesialis die bal agter sy rug na die vlieënde senter laat loop het – was die kersie op die koek.

Die Stormers sal in die eindstryd teen die wenner van die ander halfeindstryd tussen Leinster en Munster speel.

Indien Munster ʼn haas uit die hoed pluk en met Leinster afreken, sal die eindstryd in Kaapstad beslis word.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Manie Libbok (2), Angelo Davids, Paul de Wet, Marcel Theunissen en Ruhan Nel. Doelskoppe: Libbok (5). Strafskop: Libbok.

Connacht: Drieë: Mac Hansen, Connor Oliver, Shamus Hurley-Langton en Byron Ralston. Doelskop: Jack Carty. Strafskop: Carty.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Geniet dit. Gerugte uit die verre noorde is dat die URC se dae getel is. Te duur en te veel reistyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.