Strand by Heroldsbaai gesluit oor E. coli

Argieffoto van Heroldsbaai in die Wes-Kaap (Foto: www.susandeacon.co.za)

Die strand by Heroldsbaai in die Wes-Kaap is Vrydag weens hoë E. coli-vlakke tydelik gesluit.

Die George-munisipaliteit sê in ʼn kennisgewing dat besoedelde water weens ʼn foutiewe rioolpyp op die strand uitgeloop het. Dit is egter herstel, maar weens swaar reën oor die afgelope twee dae het oorblywende vuil water weer op die strand uitgespoel en in die see gevloei.

Die strand en riviermond by Gwaing is reeds toe weens E. coli nadat toetse by ʼn private laboratorium gedoen is.

Die gehalte van die water by albei strande sal elke dag getoets word.

“Weens die inherente gevaar om in besoedelde water te swem en in die belang van lede van die publiek se veiligheid en gesondheid, word almal versoek om nie by een van die twee strande te swem totdat E. coli-vlakke aanvaarbaar is nie.

“Hierdie kennisgewing dien as ʼn herinnering dat siektes wat deur E. coli veroorsaak word, van matig tot lewensgevaarlik kan wissel. Die meeste mense word binne vyf tot sewe dae gesond. Jong kinders wat met E. coli besmet word, loop die hoogste risiko om ernstige simptome en komplikasies, waaronder nierversaking, te ontwikkel.”

Die munisipaliteit sê hy het begrip vir strandgangers se frustrasie in dié verband en sal mense op die hoogte van verwikkelinge hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.