Stresvlakke in huishoudings neem toe, raad oor wat om te doen

Foto ter illustrasie. (Foto: Noah Buscher/Unsplash.)

Ál meer instellings en organisasies spreek hulle kommer uit oor die verhoogde spanningsvlakke wat gesinne in Suid-Afrika ervaar. Die sekuriteitsmaatskappy ADT het pas sy stem by die stroom gevoeg.

“Hoewel die SAPD se misdaadsyfer dit nog nie weerspieël nie, ervaar ons beslis ʼn toename in versoeke om in te gryp by ʼn situasie waar daar vermoedelik huishoudelike geweld plaasvind,” het Charnel Hattingh, Fidelity ADT se nasionale bemarking-en-kommunikasiebestuurder, gesê.

Hattingh het bygevoeg hulle sien ook ʼn toename in WhatsApp-boodskappe en ander sosialemediagroepe waar mense hulp vra omdat hulle hoor die bure op mekaar skree. “Bure rig ook onderling ál meer aggressiewe en dreigende boodskappe aan mekaar oor die reëls van die afsondering of die aandklokreël wat verbreek word.”

Sy meen dit dui alles op ʼn toename in spanning by huishoudings. “Ons glo die geestelike en emosionele welsyn van mense is net so belangrik soos hulle fisieke gesondheid in die Covid-19-pandemie.”

Precious Robinson, voorsitter van SACSoWACH wat ʼn koalisie van 33 nieregeringsorganisasies is wat die departement van gesondheid ondersteun in die bekamping van Covid-19, het gesê die regering se inbelsentrum vir geslagsgebaseerde geweld het in die eerste drie weke van algehele afsondering reeds dubbel die aantal oproepe hanteer as wat dit gewoonlik ontvang.

“Meer as 120 000 slagoffers het die nasionale hulplyn vir mishandelde vroue en kinders geskakel in net die eerste drie weke van die landwye afsondering. Die inbelsentrum kan tolvry genader word en hanteer noodoproepe 24 uur, sewe dae per week,” het Robinson gesê.

Hattingh het bygevoeg dat daar nog relatief min amptelike navorsing plaaslik gedoen is oor die gevolg van die pandemie op landsburgers se geestesgesondheid, maar dié veiligheidsmaatskappy sien hoe talle van hulle kliënte daagliks ʼn stryd voer teen die “emosionele uitval” wat aan Covid-19 toegeskryf kan word.

“Ons kry te make met angstigheid, kommer oor moontlike besmetting en wat dit vir mense se gesinne kan beteken, tot die spanning om kinders besig te hou of hulle net te beskerm teen die harde werklikheid van ons omstandighede. Dan is daar ook nog die eensaamheid wat dit veroorsaak en die frustrasie om saam met familielede ingehok te wees. Die meeste Suid-Afrikaners bevind hulself op ʼn tuimeltreinrit, én dan praat ons nog nie eens van die finansiële uitdagings nie,” sê sy.

Hattingh sê die veiligheidsmaatskappy is bewus van ʼn voorval waarin ʼn polisiebeampte geskiet is toe hy in Parkmore, Johannesburg, gereageer het op ʼn saak van gesinsgeweld. Die inwoner het selfmoord gepleeg nadat hy die polisieman geskiet het.

Sy meen die vlakke van spanning op geestelike en emosionele welstand kan styg namate die afsonderingstyd voortduur en die ekonomie verswak.

“As jy onder druk is en angstig voel, moet jy besef dat jy dit nie alleen hoef te hanteer nie. Daar is mense en organisasies wat kan en wil help,” sê Hattingh.

Die regering se webwerf bevat ʼn lys van tolvrye nommers wat mense kan skakel as hulle in nood is. Hier is ’n lys van belangrike nommers jy vir hulp kan skakel:

SAPD se kontakbesonderhede vir geslagsgebaseerde geweld:

0800 333 177

[email protected]

Die regering se noodhulplyn vir geslagsgebaseerde geweld:

0800 428 428 / * 120 * 7867 # (vry van enige selfoon)

SMS-lyn: 32312

Gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe se hulplyn:

0800 150 150

POWA (People Opposing Women Abuse):

011 642 4345

Selfoon (nauurs): 083 765 1235

Childline:

0800 055 555

LifeLine Suid-Afrika:

0800 012 322 (gratis op selfoonnetwerke asook landlyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

En wat sê die hoed nou!!! Sy drank verbod het nou mooi die teenoorgestelde uitwerking!!!! Mense met bietjie verstand het dit van die begin vir hom gesê. Maar nee. En hy is baie stil!!!!

Rodger17 ·

Alles te danke aan ou zol en hoed!Dit gebeur maar as jy onbevoegde ministers aanstel om portefeuljes te hanteer wat hulle geen benul van het nie.Wat verwag jy van anc kaders?As jy kyk na al die vorige presidente kan jy verstaan hkm ons land so lyk!Immers was zol met jz getroud nê!

Alexz ·

Zol en Hoed voel vere. Hulle is tè besig om ‘kickback’ geld te tel wat hulle maak deur sluikhandel!

Sarel ·

Wst vir hulp vir mense wat reeds of gaan on die toekoms hulle werk en inkomste vrrloor het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.