Stroper val natuurbewaarder aan

Perlemoen wat tydens ‘n vorige klopjag gevind is. (Foto: Facebook/ Overstrand-munisipaliteit)

ʼn Seam (see, lug en berg)-bewaarder is Maandagaand in omgewing van Glencairn in Kaapstad aangeval deur vermeende perlemoenstropers.

Lauren Howard Clayton, woordvoerder vir SANParke, sê personeel van Tafelberg- nasionale park (TMNP) is die aand omstreeks 23:30 deur die omgewingsmisdaadeenheid ontbied ná vermeende stropers in die mariene beskermingsgebied in Glencairn opgemerk is.

“Seam-beamptes is ontplooi en met behulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ʼn verdagte voertuig voorgekeer. Toe die voertuig deursoek is, is daar beslag gelê op duiktoerusting en 112 stukke perlemoen. Ses verdagtes is in hegtenis geneem en die voertuig is geskut.”

Tydens die inhegtenisneming het een van die verdagtes egter ʼn SEAM-bewaarder aangerand. “Hy is na die naaste hospitaal geneem met ernstige beserings.”

Megan Taplin, bestuurder van TMNP, sê natuurbewaarders kom daagliks voor lewensgevaarlike situasies te staan terwyl hulle ons natuurlike erfenis op land en in die see beskerm. “Ek wil graag die natuurbewaarder ʼn spoedige herstel toewens. Ek glo hy sal ten volle herstel ná die tragiese voorval.”

Sy wens die Seam-bewaarders en lede van die SAPD geluk met die suksesvolle inhegtenisneming van die betrokke verdagtes.

“Dankie vir almal se toewyding en harde werk in die stryd om ons natuurlike hulpbronne onvoorwaardelik te beskerm.”

Die verdagtes is aan die polisie oorgegee vir verdere ondersoek. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Omliggende gemeenskappe word versoek om steeds enige verdagte aktiwiteit by die TMNP aan te meld by 086 110 6417.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henry ·

Daar is net een taal wat n stroper verstaan en dis “deadly force”. Die goed dink hulle is verhewe bo die wet. Gaan kyk op Pearly Beach . Hulle stroop oop en bloot en niemand doen iets nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.