Suid-Afrikaners ál minder ekonomies vry

Die Suid-Afrikaanse vlag hang halfmas voor die Uniegeboue (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Suid-Afrikaners geniet nou amper net so min ekonomiese vryheid as in die vroeë 1990’s, toe erge sanksies weens apartheid Suid-Afrika se ekonomiese aktiwiteite ingeperk het.

Volgens die jongste data van die Economic Freedom of the World (EFW-)indeks, het Suid-Afrika weereens afgeskuif van 93ste tot 94ste uit 165 lande.

“Suid-Afrika se lang optog weg van ekonomiese vryheid duur voort in 2023,” sê David Ansara, hoof- uitvoerende beampte van die Vryemarkstigting. In 2019 het Suid-Afrika die 92ste plek beklee en in 2008 was die land 73ste. Suid-Afrika was skynbaar die beste af in 2000, toe hy 47ste op die lys was.

Daar is ʼn twee jaar lange vertraging in die beskikbare data, wat beteken dat hierdie jaar se verslag data van 2021 gebruik.

Hier is hoe lande se ekonomiese vryheid in 2021 gelyk het, met die boonste kwartiel (groen), tweede kwartiel (blou), derde kwartiel (oranje) en minste vry lande (rooi):

Die verslag, wat jaarliks deur die Fraser-instituut in Kanada vrygestel word, rangeer lande na aanleiding van die volgende kriteria:

  • Grootte van die regering (Suid-Afrika: 119)
  • Regstelsel en eiendomsregte (Suid-Afrika: 59)
  • Gesonde geldsake (Suid-Afrika: 95)
  • Vryheid om internasionaal handel te dryf (Suid-Afrika: 103)
  • Regulering (Suid-Afrika: 91)

“Die verslag toon dat Suid-Afrika se jongste [rangering] die laagste nog ooit is, en sy telling van 6,53 [uit 10] is die tweede laagste sedert die oorgang van 1994,” het Richard Grant, professor in finansies en ekonomie aan die Cumberland Universiteit en senior konsultant vir die Vryemarkstigting, in die jaarlikse verslag geskryf.

“Dit beteken dat Suid-Afrikaners ekonomiese vryheid in absolute terme verloor het, maar ook in verhouding tot die meeste ander lande,” sê Cumberland.

Die konstante daling is ʼn duidelike resultaat van die regering se ongebreidelde, versmorende begeerte vir ekonomiese beheer, meen Ansara.

Hoewel Suid-Afrika heelwat in posisie geval het, het die land se puntetoekenning nie vreeslik verander nie. Waar die wêreld oor die afgelope dekades gemiddeld meer ekonomies vry geword het, het Suid-Afrika dus agteruitgegaan.

Ekonomiese vryheid wêreldwyd

Suid-Afrika is egter nie al land wat sleg vaar nie. ʼn Dekade van groei in ekonomiese vryheid is in 2020 uitgewis deur regerings wêreldwyd se drastiese ingrypings weens die Covid-19-pandemie. Die wêreldwye gradering is nou so laag soos dit in 2009 laas was, toe ʼn reuse-resessie die wêreld getref het.

Volgens 2023 se verslag is daar ʼn duidelike verband tussen menslike vooruitgang en welvaart en ekonomiese vryheid. Die EFW toon aan dat die armste 10% van mense in eerstekwartiellande ʼn inkomste van ongeveer VSA$14,204 (ongeveer R268 600) per jaar verdien.

In die vierde kwartiel (die minste ekonomies vrye state) verdien die armste 10% ʼn skamele VSA$1,736 (sowat R32 800) per jaar.

Die derde kwartiel, waarin Suid-Afrika val, het ʼn gemiddelde inkomste van VSA$2,641 (sowat R49 900) onder die armste 10%.

In ʼn neutedop beteken dit dat die armste 10% in ekonomiese vry lande agt keer meer verdien as die armste 10% in lande met die minste ekonomiese vryheid.

“Venezuela en Zimbabwe – eerder as Singapoer of Switserland – is ongelukkig die state wat die huidige Suid-Afrikaanse regering die graagste wil navolg,” sê Martin van Staden, beleidshoof van die Vryemarkstigting.

Ander groot lande se prestasie lyk soos volg: Taiwan (11de), Japan (20ste), Duitsland (23ste), Korea (42ste), Frankryk (47ste), Italië (53ste), Mexiko (68ste), Indië (87ste), Rusland (104de), Brasilië (90ste), en China (111de).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Net weereens ‘n bewys dat cANCer nie kan regeer nie. Maar baie goed by die trog kan vreet.

Manie ·

Sê dit vir die Economic Freedom Fighters in hulle koddige rooi oorpakkies asseblief.

Jan Jacobs ·

Baie beter gegaan in die 90’s as nou, misdaad en werkloosheid het vir 3 dubbel

Mnr De Beer ·

Solank as wat die gehoorsame burgers niks aan die saak doen nie sal dit so bly. Ons aanvaar en doen klaar niks aan die hoe moord syfer, hoe werkloosheid syfer en korrupsie in die land.

Papsak ·

Hoe vinniger die anc uit gegooi word hoe vinniger sal dit beter gaan met ons in SA hulle kan net nie regeer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.