Sukkelende rioolaanlegte ‘besoedel’ Valsbaai

Deur Steve Kretzmann, GroundUp

Valsbaai word voortdurend deur die Kaapse Vlakte-afvalwaterbehandelingswerke besoedel omdat riool nie voldoende behandel word nie. (Foto: GroundUp / Steve Kretzmann)

Hoewel die Kaapstad-metro na maniere kyk om nie meer onbehandelde riool na die Atlantiese kusstrook te pomp nie, word Valsbaai voortdurend deur die stad se grootste rioolsuiweringswerke – wat naby Strandfontein geleë is – besoedel omdat riool nie voldoende behandel word nie.

Uit die 382 miljoen liter onbehandelde of gedeeltelik behandelde riool wat natuurlike waterbronne in en om Kaapstad besoedel, vloei 216 miljoen liter daagliks in die see by Valsbaai.

Die Kaapse Vlakte-afvalwaterbehandelingswerke (WWTW) behandel minstens 114 miljoen liter se riool per dag, aldus 2022 se Groendruppelverslag wat die departement van water en sanitasie (DWS) vrygestel het.

Tog toon data van die DWS se geïntegreerde regulerende inligtingstelsel (Iris) dat die Kaapse Vlakte-WWTW die afgelope ses jaar versuim het om riool volgens minimum standaarde te behandel. Munisipaliteite moet maandeliks data oor hul rioolsuiweringswerke op Iris laai.

Rioolwater word dan by Sonwabe-strand uitgepomp en vloei deur ʼn kanaal wat onder Baden Powell-rylaan loop. Dié rioolwater is veronderstel om eers behandel te word voordat dit in die omgewing vrygelaat word en moet aan verskeie vereistes voldoen. Dit sluit in mikrobiologiese vereistes soos die aanvaarbare vlakke van fekale bakterieë soos E. coli in die rioolwater, asook verskeie chemiese vereistes waaraan die rioolwater moet voldoen.

Die aanleg skiet egter ver tekort en het verlede jaar nie aan een van mikrobiologiese vereistes voldoen nie en aan net meer as 40% van die chemiese vereistes.

Met ’n kapasiteit van 200 miljoen liter per dag, is die Kaapse Vlakte-WWTW verreweg die grootste rioolwerke in Kaapstad, maar dit is nie die enigste een wat misluk nie.

Die Iris-databasis toon dat 15 van Kaapstad se 23 rioolsuiweringswerke in 2023 nie behoorlik aan mikrobiologiese of chemiese vereistes voldoen het nie.

Dit sluit die mariene seestortingspype by Groenpunt, Seepunt en Houtbaai uit wat nie die meer as 32 miljoen liter riool wat hulle daagliks in die see pomp, behandel nie. Die maandelikse nakomingsresultate vir Kaapstad se rioolsuiweringswerke vir vanjaar is blykbaar nog nie op Iris gelaai nie.

Dus, saamgelees met die jongste Groendruppelverslag, is daar verlede jaar daagliks meer as 382 miljoen liter gedeeltelik behandelde of onbehandelde rioolwater in riviere, riviermondings en oseane in en om Kaapstad gestort.

Die uitvloei van die Kaapse Vlakte-afvalwaterbehandelingswerke in Valsbaai. (Foto: GroundUp / Steve Kretzmann)

Hiervan het 216 miljoen liter Valsbaai elke dag besoedel. Dit is óf direk in die see vrygelaat óf het deur riviere soos die Eersterivier gevloei. Die res het aan die westelike kus in die Atlantiese Oseaan gevloei.

Stad ‘gee aandag’

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het in reaksie gesê die stad “verskerp sy belegging” in rioolsuiweringswerke “ten einde ’n aantal uitdagings wat verband hou met infrastruktuur, kapasiteitsuitdagings en behandelingsprosesse op te los”.

Volgens Badroodien sal R1,8 miljard na raming aan uitbreidings en opgraderings by WWTW’s gedurende die 2023‑’24-boekjaar bestee word, wat tot R3 miljard in die 2024‑’25-boekjaar sal toeneem.

Hy sê uitdagings wat verband hou met die behandelingsproses word veral by die Kaapse Vlakte-WWTW hanteer om die gehalte van rioolwater te verbeter.

Met betrekking tot die ander rioolsuiweringswerke wat afvalwater in Valsbaai vrystel, gaan die Macassar-WWTW glo ’n aansienlike opknapping ondergaan en opgegradeer word van sy huidige kapasiteit van 34 miljoen liter per dag tot 70 miljoen liter per dag.

Badroodien sê egter dié gebied word deur Eskom bedien en word dus deur beurtkrag geraak. Eskom het glo versoeke geweier dat die aanleg van beurtkrag vrygestel word.

Hoewel die Gordonsbaai-WWTW redelik goed funksioneer, is dit ook in ’n Eskom-toevoergebied geleë en word dit gereeld deur beurtkrag geknou.

Badroodien verduidelik dat die Bellville-WWTW, waaruit afvalwater via die Eersterivier in Valsbaai vloei, in die finale fase van ’n opknapping en behandelingsproses is.

Geen melding is egter gemaak van planne vir die problematiese Mitchells Plain-WWTW wat net 36% vir chemiese voldoening in 2023 behaal het nie, en minstens 26 miljoen liter gedeeltelik behandelde riool elke dag in Valsbaai vrystel.

Net so is Scottsdene-WWTW nie [deur Badroodien] genoem nie.

Dit het laas ʼn mikrobiologiese voldoening van 39% en chemiese voldoening van 32% behaal, wat 8 miljoen liter gedeeltelik behandelde riool per dag in Bottelaryrivier vrygelaat het, wat via die Kuilsrivier en dan die Eersterivier na Valsbaai vloei.

Hoewel net 24% van Simonstad-WWTW se kapasiteit werk, het dit 42% vir chemiese voldoening in 2023 behaal en 1,2 miljoen liter gedeeltelik behandelde uitvloeisel daagliks direk in die baai vrygestel.

Verskeie ander rioolsuiweringswerke ondergaan egter ook opgraderings en opknappings. Dit is Athlone, Potsdam, Wesfleur en Wildevoëlvlei by Kommetjie. Die aanlegte stel almal afvalwater óf direk óf indirek vry in die Atlantiese Oseaan aan die westelike kus.

Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn en word met vergunning gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

George ·

Dit gebeur by elke 4de strand hier in WK, hulle het minder as n maand terug nuwes gele naby BB. Dis hoekom hulle so geraas maak oor DBN want dit gaan net so erg hier.

Manie ·

Ek twyfel ook of die drinkwater so skoon is as wat hulle beweer, want hoevele mense wat ek ken loop met ‘n maagvirus rond. Die toets sal wees om die premier, burgemeester en ander ampsdraers aan ‘n strand swem en water drink toets te onderwerp.

Bolandse Nooi ·

Hmmm …………… lyk my die Wes-Kaap is “after-all” nou nie die land van melk en heuning nie … g’n wonder nie, want kyk hoe word ons provinsie oorstroom met inkommers!!!!!!

Pieter ·

Julle moet onthou, die mense wat aan die stuur van sake is, is onbevoeg, om dit te doen, hy/sy het heel mootlik groot geword in n nedersetting, en is gewoons daaraan, dat alle afval in die rivier gegooi is om weg te speol. So , om daai probleem op te los, sal julle iemand aan die stuur moet kry, wat weet hoe die afval van onslae geraak moet word. Dis nie net hier nie, baie van die amptenare is nie ordentlik opgevoed nie, dus dink hulle dis normaal om met die hand te eet op sy spinternuwe staatsvoertuig se dak of enjinkap.

Marous ·

Die hele land is een groot riool put. Cholera gaan hierdie bevolking uitroei. Hou maar dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.